Die Swart Draak Ontwaak: Karate en Kill Bill op die Kaapse vlakte  

Die 11de kykNET Silwerskermfees spog met die eerste gevegskunsfilm in Afrikaaps. Die akteur Lee Roodt, ’n voormalige karate- en skopboks-Springbok het die kortfilm Die Swart Draak ontwaak se draaiboek geskryf. Hy speel ook die hoofrol en het die choreografie behartig. 

Om ’n aksiefilm op ’n piepklein begroting te maak verg haarfyn beplanning – veral as die kamera net ’n paar dae kan rol, die meeste spelers nog nooit op ’n filmstel was nie, en die film propvol gevaarlike Muay Thai- en tradisionele Oosterse gevegskunstoertjies is.   

“Boonop moet elke toneel vanuit ’n dinamiese vegkunstegniek- én filmiese oogpunt aangepak word,” verduidelik Die Swart Draak ontwaak se vervaardiger,  Annemarie du Plessis.

Alhoewel die maak van so ’n aksiebelaaide film bitter moeilik is, was Die Swart Draak ontwaak vir Lee en die kinematograaf Johannes Pieter Nel ’n droom wat bewaarheid is. Johannes maak immers al van kleintyd af sy eie kung-fu-video’s. Op skool het hy die biblioteekjuffrou se kamera geleen en ’n vullisblik as ’n driepoot gebruik. Nadat hy ’n Bruce Lee-fliek op televisie gesien het, was die sesjarige Lee vasbeslote om eendag Suid-Afrika se eie Bruce Lee te word. Daarom het hy as ’n klein laitie al begin oefen om sy katas te vervolmaak. 

Sedertien het Lee ’n draai op talle sepies gemaak, en hy is selfs al in die internasionale dokumentêr Locked Up Abroad ingespan om ’n berugte kartelbaas uit te beeld. Bo en behalwe sy Springbokkleure is hy ook in 1997 aangewys as die Junior Karatevegter van die Jaar en is hy ’n Tweede Dan Swartgordel in W.A.K.O. 

Om die verfilming van Die Swart Draak seepglad te laat verloop, het Lee, Johannes en die regisseur, Redione Stephens, al die tonele vooraf intensief gerepeteer en spesifiek opgeleide vegters in plaas van akteurs gebruik. Só is pa en seun Burhaan en Taariq Jardine, byvoorbeeld, ook die pa en seun in die kortfilm. 

Terwyl klassieke videospeletjies, soos Street Fighter 2, die kortfilm se styl geïnspireer het, stem die span saam dat Die Swart Draak ontwaak beslis ook ’n bietjie Tarantino op die Kaapse Vlaktes is. 

“Ek was ’n groot Tarantino fanboy toe ek film geswot het en mens kan dit sien in die redigering en kamerawerk,” erken Johannes.  

“Beslis in die musiek ook,” sê Lee. “Dis spaghetti Western vibes, maar in plaas van ‘n tumbleweed wat oor die straat waai, is daar ’n pakkie NikNaks.”

En dan is daar die geel uitrusting wat Lee se karakter, Clifford, dra – soos The Bride in Tarantino se Kill Bill. 

Die Swart Draak ontwaak première op Donderdag 24 Augustus om 09:00 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.