Die wenner van die 2020 Silwerskermwebinaar se Pitch vir ons-kompetisie, Die vegan en die jagter, debuteer by vanjaar se fees

By kykNET se Silwerskermwebinaar, wat in 2020 tydens die Covid-19-pandemie gehou is, kon rolprentmakers eg Suid-Afrikaanse storie-idees inskryf. François Maree se donker komedie Die vegan en die jagter is as die wenner aangewys en by vanjaar se fees sien ons die vrug van sy handewerk.

In Francois se kortfilm gaan die vegan en die jagter van die titel op ’n Tinder date. Dit loop mooi vlot tussen Tshidi en Jan en hulle bestel ’n Uber wat hulle by Jan se Stellenbosh-huis aflaai, maar dan word die ligte aangeskakel en ’n muur vol jagtrofeë word onthul.

Hier is ’n paar interessante feite oor dié kortfilm:

  • Die idee vir Die vegan en die jagter het pos gevat toe François in 2018 vir sy meestersgraad in draaiboekskryf in New York studeer het. Een van sy dosente het versoek om meer van Suid-Afrika in sy skryfwerk te sien. François het na dié gesprek die film se openingstoneel in ’n koffiewinkel in Brooklyn geskryf en sy Amerikaanse klasmaats het die volgende dag al die dialoog in Afrikaans en Zoeloe gelees.
  • Die rolprent is oor die bestek van drie aande op die Goedeverwachting Estate duskant Somerset-Wes verfilm. Die plaashuis, waarin die grootste deel van die rolprent verfilm is, is in 1795 gebou. Dit was oorspronklik ’n herberg – die laaste oornagplek vir reisigers voordat hulle die hinterland moes aandurf. Die Hollanders het in 1806 op dié einste plaas ná die Stryd van Blaauwberg aan die Britse vloot oorgegee.
  • Lance Peters, die wapenhanteerder van Mad Max: Fury Road, het gesorg dat alles so geloofwaardig en veilig as moontlik bly.
  • Die kinematograaf Pierre de Villiers het saam met die span van This Is Not a Burial, It’s a Resurrection by die 2020 Sundance-filmfees die prys vir Visionary Filmmaking gewen. Pierre het met ’n Sony FX9-kamera die skaduwees en kontraste van ’n onbekende plaashuis vasgevang. ’n Sogenaamde “split diopter” en ’n “microforce” is op verskillende maniere vir die uitdagende spieëltonele gebruik. Sami Maseko, wat Tshidi speel, het al die sosialemediatonele in die kortfilm self met ’n iPhone en ’n “ring light” verfilm terwyl sy haar rol vertolk het om die spontane chaos van ’n Instagram Live-sessie uit te beeld.
  • Michael Wilson-Trollip (oorspronklike musiek en klankmeng) en Peter Crafford (musikale regisseur) het na ou tradisionele Afrika-musiek, verwronge radioklanke, hommeltuie en die amapiano-genre geloer om aan die klanklandskap gestalte te gee.
  • Van die vleiseters in die openingstoneel is veganiste in die regte lewe en moes omring word deur vleis. Katlego Lebogang, wat die rol van Ongezwa vertolk, is ’n pessetariër en sy moes ’n Big Mac op ’n baie spesifieke manier eet om nie aan die vleis te hap nie.
  • François het tydens die skryfproses met verskeie professionele jagters, vleiseters en veganiste gepraat om die karakters geloofwaardig uit te beeld. Hy het ook self probeer om ’n veganis te word, maar dit het ongelukkig net drie dae gehou.
  • Sami en François het saam drama op Stellenbosch studeer en François het die rol vir haar geskryf. Sy vertolk die karakter in drie tale: Afrikaans, Engels en Zoeloe.
  • Jacques Theron, wat die rol van Jan speel, moes vir ’n geruime tyd elke aand in die grimeerstoel sit. Sy karakter het baie wonde van ou jagtogte opgedoen en grimeerkunstenaar Kyra Loubser moes noukeurige navorsing doen, aangesien verskillende diere verskillende aanvalsmetodes gebruik.

Die vegan en die jagter wys op Woensdag 23 Maart om 15:00.