Drie legendes vanjaar by Silwerskermtoekennings vereer

Drie groot geeste word vanjaar by die kykNET Silwerskermfees se toekenningsgeleenthede in Kaapstad vereer vir hul lewensbydrae tot die vermaaklikheidsbedryf: ’n filmmaker wat skaars kon praat toe vertel hy al stories,  ’n geliefde en bekroonde akteur en ’n skrywer-regisseur wat die kuns verstaan om mense te laat lag.

Die legendariese filmmaker Koos Roets ontvang Saterdagoggend 22 Augustus sy eerbewys by The Bay Hotel, terwyl die akteur Ivan Abrahams en die komediegenie Willie Esterhuizen Saterdagaand by die Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gehuldig word.

Koos Roets

Koos Roets (83) het al as laerskoolkind op Prieska kinders vermaak met sy stories met behulp van selfgemaakte projektors. Sy groot vuurdoop was egter as 27-jarige kameraman op regisseur Jans Rautenbach se Jannie Totsiens – ’n baanbrekersrolprent met tegniese en emosionele uitdagings wat die meeste ander kameramanne sou laat knak het. Sy loopbaan het in 1962 begin as assistentkameraman vir Jamie Uys. Later het hyself ook heelwat regie gedoen, vir film en televisie, wat onder meer regie vir PG du Plessis se  gewilde televisiereeks Koöperasiestories insluit. En in Oktober vanjaar begin hy met die verfilming van sy jongste rolprent, The Sky Trap, wat handel oor ’n Spitfire-vegvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog.

Roets wonder tong-in-die-kies wat maak hom ’n legende. “Omdat ek vir 64 jaar in die bedryf uitgehou het? Maar ek is baie trots op en erg dankbaar vir die toekenning!”

’n Onvergeetlike oomblik vir hom in sy loopbaan is juis sy heel eerste werk wat hy by Jamie Uys gekry het en die eerste keer wat hy iets met ’n regte 35 mm-Arriflex-kamera afgeneem het. “Jamie was altyd my hero, nie Die Skim of Tarzan nie.”

Dit was ook die einste Jamie wat vir hom die belangrikste les oor die bedryf geleer het, om nie te vergeet van die “groot E” nie. “E vir entertaining. Dit help jou niks as jy ’n slim kunstige gedoente gemaak het en dit lê op die rak en niemand wil daarna kyk nie! Verneuk die kyker eerder met ’n bietjie humor om jou boodskap tuis te bring as met ’n ‘gesuffery’! Dit sal baie langer in jou gedagtes bly vassit. PG du Plessis was  die meester hiervan. Nes jy lekker lag, druk hy ’n mes in jou maag en gee dit ’n draai!”

Ivan Abrahams

Ivan Abrahams (74) se eerste rol was “as die vyfde boom van links” in Adam Small se Kanna hy kô hystoe in 1973. Sy pad het met dié van Small gekruis toe hy ’n onderwysstudent was. Sy professionele akteursloopbaan het eers in 1982 begin – met uitstaande verhoogrolle wat wissel van die titelrol in Shakespeare se King Lear tot ’n verslaafde in Oscar Petersen en Heinrich Reisenhofer se Suip!. Hy het onder meer baanbrekerswerk gedoen deur teater in die onderwys in te bring. Hy was deel van vele eerstes in ’n tydperk waar verandering en vernuwing broodnodig was, en hy het die pad oopgekerf vir ander wat na hom sou kom. Op die kassie ken kykers hom vir sy rolle in onder meer Suidooster, Spinners en Kelders van geheime.

Hoewel hy nie vir homself die benaming as legende sal toeëien nie, is hy dankbaar vir die erkenning vir die jare wat hy “die bedryf met liefde en respek as hardwerkende akteur gedien het”. Elke keer as hy gebel word om ’n rol op die verhoog of in televisie en film te vertolk, is vir hom ’n wonderlike oomblik, “maar toe Waldimar Pelser (direkteur van Premium-kanale) my bel om te sê dat kykNET en die Silwerskermfees my wil vereer, moes ek dadelik ’n paar Calmettes sluk om die oproep te verwerk”.

Sy raad aan jong mense in die bedryf is om nie “glitz, glamour en fame na te jaag en met ’n geswolle kop rond te loop nie. Jou talent moet gepaard gaan met dissipline, harde werk, liefde en respek vir die bedryf, wat insluit mede-akteurs, regisseurs en almal wat deel is van die produksie. Glitz, glamour en fame sal vir jou kom soek.”

Willie Esterhuizen

Willie Esterhuizen (71) kan met reg as een van die vermaaklikheidsreuse in ons land beskryf word en ’n baanbreker in die komediegenre. Hetsy as skrywer, regisseur of akteur het hy volksbesit geword met komiese televisietreffers soos Orkney snork nie, Vetkoekpaleis en Molly en Wors. Hierdie komediegenie het Suid-Afrika herinner dat humor die gom is wat alle mense aanmekaar laat vasklou. Dat lag nodig is.

Vir Willie is dit ’n groot voorreg dat kykNET dink hy verdien om as ’n legende vereer te word, “want eintlik is ek nou meer senuweeagtig om te speel en te skryf as toe ek jonger was”.

Hy sê die grootste oomblik in sy loopbaan was toe die vervaardiger Helena Spring hom bel en inlig dat hy die rol van Faan in Faan se trein gekry het. Dié prent is in 2014 uitgereik en geregisseer deur mede-legende Koos Roets.

Die beste raad wat hy ooit gekry het, kom van PG du Plessis. “As jy ’n draaiboek skryf, moenie met almal daaroor praat nie, jy praat die energie wat jy moet gebruik om te skryf, weg, en dan kan jy dit nie meer skryf nie.”