Duo huldig die Kaap en haar mense met film van Marita van der Vyver se ‘Al wat ek weet’

Die bekroonde filmmaker-duo Devon Delmar en Jason Jacobs het met die verfilming van Marita van der Vyver se jeugroman Al wat ek weet nie net afgewyk van die fokus op eie stories nie, maar ook die platteland vir die stad verruil, spesifiek Kaapstad.

Ná die dood van sy ma woon die tiener Gabriel (Jonan Mouton) by sy antie Lotta (Zenobia Kloppers) en ouma Lenie (June van Merch) in Springfield Terrace in Woodstock. Weens sy houding stoot hy mense weg, en in terapie onderdruk hy sy rou-proses deur eerder op fantasieë te fokus. Sy lewe begin ’n nuwe rigting inslaan ná hy Sasha (Antoinette Myburgh) ontmoet. Om haar te beïndruk, besluit hy om deel te neem aan ’n nasionale digkuns-kompetisie, nou moet hy nog net die gedigte skryf…

Al wat ek weet is die derde speelfilm van die duo. Die ander is die bekroonde Carissa en Variasies op ’n Tema, wat ook by vanjaar se Silwerskermfees vertoon word. Dit word van 19 tot 22 Augustus in Kaapstad aangebied.

 

Vrae vir Devon Delmar en Jason Jacobs, mede-draaiboekskrywers en mede-regisseurs

Julle vorige twee speelfilms is oorspronklike of eie stories, wat het julle laat besluit om Marita van der Vyver se jeugroman te verwerk en te verfilm?

Ons vorige rolprente is oorspronklike stories geïnspireer deur die gemeenskappe van Wupperthal en Kharkams en hul persoonlike en alledaagse lewens, of uitkyk op die lewe. Die skuif na meer kommersiële en bestaande fiksie (in dié geval Marita se boek) was natuurlik, maar dra ook ’n groot gemeenskapselement waar ons intiem met die Springfield Terrace-gemeenskap in Woodstock gewerk het.

In die jeugroman het Gabriel se reis van diep rou tot om oor te begin ons die meeste getref. Dinge raak baie donker vir hom naby die einde, maar daar is ook hoop. Van lekker lag kom lekker huil. Ons sien ook baie van onsself in hom, veral omdat ons ook so hardkoppig was as tieners wat gesukkel het om oor ons gevoelens te praat. Ons hoop jonger mans sal aanklank vind daarby. Ons leef steeds in ’n tyd waar ons nie genoeg veilige ruimtes vir tieners skep om eerlik te wees oor wat regtig in hul harte aangaan nie.

Wat is die belangrikste temas van Al wat ek weet? Die boek is voorgeskryf vir hoërskoolleerlinge, maar die verhaal behoort volgens julle wyd aanklank te vind. Wei asseblief uit hieroor.

Daar is temas en idees oor identiteit, grootword, gebroke families en die uitdagings van jong liefde – temas wat hoërskoolleerlinge sal verstaan en waarby hulle aanklank sal vind. Vir ons ouer gehore is daar die boodskap van die hoop vir herstel (dat dit wel moontlik is).

Die roman en film duik kop eerste in wat betref baie ongemaklike kwessies wat vandag se jong stedelike mense beïnvloed. Krisisse van manlikheid, geestesgesondheid, klas, ras, rou en seksualiteit. Al die temas speel af teen die agtergrond van ’n moderne Suid-Afrika te midde van die verwarring waarin ons vandag verkeer.

Dit is ook ’n viering van ons kleurryke nasie en ons hoop die film sal ons aanmoedig om saam te staan en ons laat besef ons is nie so verskillend van mekaar nie. Baie van ons ken die seer van om ’n ma te verloor, hoe moeilik dit kan raak om na ons grootouers om te sien asook die koste van versoening en vergifnis.

In wese is dit ’n gesinsdrama – vertel met fyn aanvoeling, warm humor, magiese elemente – oor mense wat ons almal ken en liefhet.

Dit is ’n skuif van ’n plattelandse milieu in die vorige films na die stad, veral Woodstock in Kaapstad. Was dit ’n groot aanpassing?

In die platteland het jy die voordeel van ’n meer gefokusde produksie op stel, maar nadele soos dat daar nie die belangrike hulpbronne is wat die stad jou bied nie. Die proses om in die stad te verfilm was ’n groot leerskool, maar met die ervaring van Annemarie du Plessis en Meria Productions as die vervaardiger en produksiemaatskappy is daar na almal se belange omgesien.

Ons werk as ’n “span”. Ons is bereid om onsself op baie vlakke uit te daag in wat nodig is om stories suksesvol en op ’n eerlike manier oor te dra. Ons plaas altyd al ons vertroue in akteurs, want hulle is die finale dryfkrag en weerspieël die bedoelinge van die hart van die karakters.

Hoe is dit om so saam-saam te werk? Hoe pak julle dit aan in die proses van skryf – sit julle om dieselfde tafel? En die regie – is dit volgens konsensus? Verskil julle ooit van mening?

Ons deel die verantwoordelikhede as mede-outeurs en -regisseurs. Agt jaar, skaars twee duskant ’n dekade, bou ons met respek en aaneenlopend ’n vertroue en sekerheid in mekaar.

Met elke projek moet ons van voor af leer hoe om te skryf – elke wêreld waarin ons instap, is ’n nuwe een, en dit is amper asof ons vir elke nuwe storie van nuuts af moet leer hoe om saam te werk. Amper seisoenaal. Dít is die vreugde én die wonder daarvan. Ons leer steeds hoe om saam te werk en dit is daarom belangrik om aan te hou. Dit is moeilik om te verduidelik (wat ons metodes is), want elke keer moet ons nederig die proses aanpak. En elke proses is uniek, hoewel daar soortgelyke elemente is wat ons toepas wanneer of skryf of direct. Dit is magies, selfs vir ons, gegewe ons opwindend verskillende agtergronde en upbringings. Al wat ons met enige sekerheid kan sê, is dat daar ’n soort kosmiese alignment aanhou groei in die manier hoe ons ons ding doen, en wat ’n eer en voorreg is dit nie, veral in vandag se tyd.

Jason, jy was die Nasionale Kunstefees se Standard Bank Jong Kunstenaar vir toneel in 2026, waar jy die produksie Kraal aangebied het. Hoe belangrik is teaterwerk vir jou? Wat kan jy daarmee sê wat jy nie met film kan sê nie?

Dit is vir my ’n groot eer om steeds teaterwerk te kan doen, en intentionally stories oor my mense te kan produce vir teater. Dit bied jou ook die geleentheid om iets oor ’n langer tydperk te ontwikkel.

Kraal het reeds in 2022 by die Woordfees sy debuut gehad, waar ek met my pa kon saamwerk. Ná my pa se afsterwe het ek soos Gabriel in ’n diep emosionele donker gat geval en ek kon vir baie lank nie aan my eie stories raak nie. Maar tyd genees en teater gee mens kans om stadig en statig deur jou rou te werk. Kraal het tot so ’n mate gegroei dat ons drie nuwe skeppings kon uitdink: ’n nuwe weergawe van die eenpersoonvertoning, die opslaan van ’n inheemse matjieshuis asook die ontwikkeling van ’n kort dokumentêr wat ’n gedeelte van die Kamiesberg-erfenis eer.

Teater gee jou meer vryheid om buite die boks te dink, maar die belangrikste element is hoe teater en stories ’n live audience op ’n meer intieme manier nader aan mekaar kan bring. Teater beteken ook baie vir die mense wat dit skep. Want die storie bly vir jare by jou.

Ek is opgewonde oor die toekoms van teater, al is ek nog maar ’n groentjie as dit kom by die stories oor identiteit en erfenis van die Kamiesberg en Namakwaland wat ek aanhou wil vertel.

Wat lê voor vir die span van Kraal (die produksiemaatskappy)? Het julle een of ander groot droom?

Kraal is ’n beweging na meer inklusiewe stories wat ons almal met mekaar verbind. Ons word gelei deur ons intuïsie en ons bly luister na die stories wat op die wind oorgedra word.

Enigiets anders wat julle met die kykers wil deel?

Al wat ek weet se speelfilm is ’n ode aan die kleurryke persoonlikhede van ons as mense. Mense vol hart, trots en passie. Benjamin Jephta se oorspronklike klankbaan, geïnspireer deur die Kaapse Klopse en sy eie jazztaal, gaan gehore lank bybly. Die film hanteer ernstige temas met sensitiwiteit, maar dit is ook vol pret en humor en dit is ons liefdesbrief aan Huri ǂOaxa (Tafelberg) en die mense wat sy beskerm.