Een saam is ’n sensitiewe uitbeelding van verlies, konserwatiewe ouerskap en gender-identiteit

Josh Hundermark se Silwerskermfeeskortfilm, Een saam, vermeng die verlede, hede, VHS-tuisvideobeeldmateriaal en geheueflitse soomloos om die melancholiese lewe van ’n middeljarige man uit te beeld. 

Pieter treur oor die verlies van sy vrou en kind. Aanvanklik probeer die kyker uitpluis hoe en waarom hy sy geliefdes verloor het, maar soos die storie raampie vir raampie ontvou, val die stukke van sy hartseer legkaart in plek. 

Sonder om te veel weg te gee oor die intrige en kinkels in die verhaal, is dit veilig om te sê dat dié aangrypende kortfilm jou beslis oor gender-identiteit, hoe gister se foute by jou kan spook, en verskillende ouerskapstyle laat nadink. 

Morné Visser lewer ’n roerende vertolking van die eensame, verstote Pieter. In die rol van sy oopkop vrou is nog ’n veelbekroonde, ervare speler, Erica Wessels, en hul kind is ’n skattige klein krullebol genaamd Gerhard Conradie. Dit is ook die filmdebuut van Zeno Jacobs, wat Pieter se volwasse kind speel. Zeno het ’n meestersgraad in teater aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.

Josh Hundermark Een saam se draaiboekskrywer, regisseur, vervaardiger en mede-redigeerder wou met die kortfilm opbouende gesprekke aanmoedig oor die verwerping en isolasie waartoe ortodokse, binêre sienings van gender en konserwatiewe ouerskap kan lei.

Josh was deeglik bewus dat hy met delikate en ingewikkelde temas omgaan. “Dit was vir my uiters belangrik om nie genderbeskouings en middelklaspa-probleme net vanuit my eie perspektief weer te gee nie,” sê Josh. “Daarom was die sleutelwoorde vir dié projek authenticity, collaboration en intention.” 

Diana Mills, wat in 2022 die Silwerskermfeestoekenning vir beste kortfilmregisseur gewen het met die grondverskuiwende post-apokaliptiese film My beskermer, was Josh se rigtingwyser en klankbord ten opsigte van gender-identiteit. Diana het verlede jaar gedurende die werk aan My beskermer uitgekom as trans-vrou en daarna openlik oor haar uitdagende en uiteindelik bevrydende gendertransformasie-reis gepraat.   

“Ek het by Diana aangeklop omdat ek groot waardering vir haar werk en sienings oor gender het,” verduidelik Josh. “Haar bydrae was enorm. Sy het nie net aangebied om die lang pad langs my te stap nie, maar ook om die film se assistent-regisseur te wees. Diana was die rots in my span.”

Josh besing ook Morné se betrokkenheid by die projek: “Morné was meer as net ’n hoofspeler hy was ’n medewerker.”

Voor die kameras begin rol het, het Josh en Morné ’n hele paar keer ontmoet, waartydens Morné openhartig gesels het oor sy eie pa-wees en sy kinders se vrae oor hul identiteit. “Morné se insette was weldeurdag en waardevol,” sê Josh.  

Benewens die gesprekke met Morné, het Josh en sy filmspan heelwat tyd in koffiewinkels en aanlyn sessies deurgebring om hul persoonlike stories oor Een saam se temas te deel. “Dit het begrip vir die film se visie en die sensitiewe onderwerp gekweek, asook ’n spesiale emosionele verbintenis met die storie bewerkstellig,” sê Josh.  

Dié benadering het Josh toegelaat om ’n multi-dimensionele film te skep waarin elke kreatiewe besluit doelbewus die storie gedien het. Een van dié besluite was om Een saam geheel en al met verouderde VHS-tegnologie te verfilm. 

Josh: “Hierdie praktiese element dra by tot die nostalgie, en kortfilms is immers ’n medium waarmee mens kan eksperimenteer.” 

Een saam word op Donderdag 24 Augustus om 09:00 by die Silwerskermfees vertoon en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.