Gesoek: Nuwe stemme vir 2024 se kykNET Silwerskermfees 

Die 11de kykNET Silwerskermfees, wat tussen 23 en 26 Augustus 2023 in Kampsbaai plaasvind, bou vanjaar voort op sy visie om ’n industrie-wegspringblok vir aspirant-rolprentmakers te wees. Vanjaar se Silwerskermfeesdebuutwerke sluit veertien diverse kortfilms asook ses kort dokumentêre – ’n nuutjie vir die fees – in.

Intussen kan Suid-Afrika se eie toekomstige Tarantino’s, Bong Jon-hoo’s, Jane Campions en Michael Moores ook reeds inskryf vir 2024 se Silwerskermfees-kompetisie vir kortfilms en kort dokkies.

Met beide dié kategorieë is die fees op soek na verbeeldingryke storievertellers wat die potensiaal het om die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre aan te gee.

Die keuringsproses vir die kompetisies strek oor verskeie fases.

Indien die dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, verwysings en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie en ’n verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom.

Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2023 gekies sal word, moet ’n voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal die suksesvolle kandidate bepaal wat finansiering en mentorskap ontvang om hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak.

Die 2024 Silwerskermfees-kortfilmkandidate sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word. As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ’n rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfeeskortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaar Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie en Toorbos op hul kerfstok het.

Talle Silwerskermfeeskortfilms is ook al in vollengterolprente omskep en verower dikwels gesogte pryse by internasionale feeste.

Die 2024-kortfilms kan tussen 3 en 30 minute lank wees, in enige genre, en enige Afrikaanse variant. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees.

Jou inskrywing moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Die inskrywingsvorms vir die twee kompetisies is beskikbaar op die Silwerskermfeeswebwerf. Die sperdatum is Maandag 8 Mei en die inskrywingsfooi beloop R350.

Draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfees-kortfilmkompetisie deelgeneem het, kan die bepalings en voorwaardes op die webwerf raadpleeg om uit te vind of hulle kwalifiseer om weer in te skryf.

Die k0mpetisie is gesluit

Skryf hier in.

Vir enige navrae kontak silwerskerm@ideacandy.tv