
Gesoek: Vars talent én ervare hande vir die 2026 kykNET Silwerskermfees
Vanjaar se 13de kykNET Silwerskermfees, wat tussen 20 en 23 Augustus in Kampsbaai plaasvind, sal weer ’n filmfees in elke sin van die woord wees met glansryke premières, speelfilms, kortfilms, dokumentêre films, voorskoue van nuwe TV-reekse se loodsepisodes, werkswinkels en paneelgesprekke met kenners.
Intussen kan Suid-Afrika se eie toekomstige Steven Spielbergs, Wes Andersons, Spike Lee’s en Greta Gerwigs reeds inskryf vir 2026 se Silwerskermfeeskompetisie vir kortfilms en kort dokumentêre. Die Silwerskermfees, wat weer in Augustus volgende jaar aangebied word, bou voort op die fees se visie om ’n platform aan filmmakers in die TV- en rolprentbedryf te bied.
Die kompetisie word in twee kategorieë verdeel:
- Opkomende filmmakers, wat vir beide kortfilms en kort dokkies kan inskryf.
- Gevestigde filmmakers (draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfeeskompetisie deelgeneem het), wat ook hul idees en konsepte vir sowel kortfilms as kort dokkies kan voorlê.
Met beide kategorieë is die fees op soek na diverse en verbeeldingryke storievertellers wat die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre kan aangee.
Die keuringsproses vir die kompetisie strek oor verskeie fases.
Indien ’n kort dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, asook verwysings na soortgelyke dokumentêre en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie. ’n Verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom.
Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2025 gekies sal word, moet ’n voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal bepaal wie die suksesvolle kandidate is wat finansiering en mentorskap om hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak sal ontvang.
Die kortfilmkandidate vir die 2026 Silwerskermfees sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word en die films kan tussen sewe en 30 minute lank wees, in enige genre en in enige variant van Afrikaans. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees.
As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ’n rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfeeskortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaar Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie, Toorbos en Hans steek die Rubicon oor op hul kerfstok het. Verskeie Silwerskermfeeskortfilms, soos Vuil wasgoed en Beurtkrag, is ook al in vollengterolprente omskep.
Jou inskrywing vir die eerste ronde van beoordeling moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.
Die inskrywingsvorms vir die twee kompetisies is op die Silwerskermfeeswebwerf (https://silwerskermfees.co.za/) beskikbaar.
Die sperdatum is Woensdag 23 April 2025 en die inskrywingsfooi beloop R350.
Skryf hier in:
Vir enige navrae kontak silwerskerm@ideacandy.tv