Helmhart: ’n kortfilm wat by jou gaan spook

Die geliefde aktrise Zenobia Kloppers maak vanjaar Silwerskermfeesgeskiedenis saam met haar vennoot by MoZe Films, Monique Seigels. Hulle is die skeppers van Helmhart – die fees se heel eerste spookstorie en Gotiese romanse.

In 2019 het Zenobia gehore meegesleur met haar vertolking van Dalene Matthee se ikoniese karakter Fiela Koemoetie in Fiela se kind, ’n Silwerskermfeesspeelfilm wat talle internasionale toekennings verower het. Met Helmhart vertel sy vanuit die regisseurstoel ’n grieselrige verhaal wat haar as kind laat regop sit het en steeds bybly.

Zenobia se ma, Alfreda Kloppers (née Sonn), was in die sestigerjare ’n jong verpleegster by ’n hospitaal in Kaapstad. Snags het dinge by dié plek gebeur wat mens se nekhare laat rys. Deure het geklap. Ligte het skielik geflikker. Medisynebottels het gerinkel. Blaaie uit lêers het rondgefladder. En dan was daar die onaardse klop-klop-klop-geluide in die gange wat menige pasiënt oop-oog laat slaap het.

Die jong Alfreda was nie met die helm gebore nie, maar een van die verpleegsters in haar nagskofsaal wel.

Dís waar dié spookstorie vol kinkels en kabels en ’n skeut romanse begin wat Zenobia en haar twee jonger broers jare gelede by Ma Alfreda gehoor net en nou in Helmhart gestalte kry.

Om eer te betoon aan haar ma en ook haar pa, het Zenobia en haar mededraaiboekskrywer, Monique, besluit om Helmhart se hoofkarakters haar ouers se middelname te gee.

Die rol van Ragel word deur Vashti Prins (Danny in Suidooster) vertolk, en Clifford Joshua Young (Daryn’s Gym) is John.

“Ek wou graag iemand in die hoofrol hê wat herinner aan my ma as jong vrou,” sê Zenobia. “Ek was in die wolke toe ek Vashti se oudisie sien. Sy was perfek! En soos dit hoort, draai Clifford die sjarme-krane behoorlik oop.”

Helmhart is by ’n regte werkende hospitaal in Kaapstad geskiet en tydens die filmspan se eerste deurnagskof het ’n rookalarm uit die bloute en sonder rede afgegaan. Dit laat mens wonder, nè?

Dié spokerige kortfilm première op Woensdag 23 Augustus om 10:30 by die kykNET Silwerskermfees. Helmhart sal ook later op kykNET en die stroomdiens Showmax te siene wees.