Hier|daar: ’n Vars kortfilm met hope nuwe talent oor liefde en rou in ’n era van tegnologie-beheptheid

Edwin van der Walt is ’n puik akteur. Sy uitmuntende toneelspel in die kykNET-dramareekse Fraksie en Donkerbos het aan hom twee beste akteur-benoemings vir die heel eerste kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie besorg. Dié spoggerige geleentheid vind op 26 Augustus by die CTICC in Kaapstad plaas en word op Sondag 27 Augustus om 20:00 op kykNET uitgesaai. 

Tydens die fees wys Edwin ook vir die eerste keer sy slag agter die kamera – as regisseur van Hier|daar.  Nóg belowende nuwe en opkomende jong talent om beslis in die toekoms dop te hou, maak voorts hul Silwerskermbuiging met dié kortfilm. 

Hier|daar is een van daardie films waaroor ’n mens nie vooraf te veel kan verklap nie, maar neem kennis: Dis ’n vars, moderne storie oor liefde en rou waarin hedendaagse tegnologie tot ’n moeilike keuse vir die hoofkarakter, Liam, lei. Terwyl Liam se vrou in ’n koma is, is hy aan sy rekenaar vasgekluister totdat hy iemand anders ontmoet. 

Die manier waarop Hier|daar gestalte gekry het, is ’n storie op sigself. 

Dit het als begin by die akteur Conradie van Heerden, wat verlede jaar ’n Fiësta-benoeming as beste opkomende kunstenaar vir die KKNK-teaterstuk Om skoon te wees ontvang het. Hier|daar was sy idee.

Hier|daar is ’n eenvoudige storie wat draai om liefde en die kompleksiteit en intriges wat dit meebring,” vertel Conradie. “Dit fassineer my. Ook hoe tegnologie ons daagliks al hoe meer beïnvloed. Ek wou hê kykers moet vir ’n rukkie sit en wonder hoe hulle in Liam se skoene sou optree.”

Nadat Hier|daar die groen lig gekry het om deel van die Silwerskermfeesmentorskapprojek te wees, het Conradie vir Melissa Myburgh genader om die draaiboek te skryf. 

“Melissa is ’n ongelooflike skrywer, verstaan my denkwyse én sin vir humor,” verduidelik Conradie.  

Conradie en Melissa het in 2017 ontmoet toe hulle saam in ’n teaterstuk gespeel het. Cupido se pyltjies was ’n kolskoot, en terwyl hulle drie jaar lank in ’n liefdesverhouding was, het hulle al hul storie-idees met mekaar gedeel. 

Benewens haar eerste draaiboek het Melissa ’n liedjie vir Hier|daar geskryf wat bydra tot die kortfilm se unieke toonaard. Dit is ook haar pragtige stem wat jy in die film hoor.  

Intussen het Edwin en Louw de Beer vir Conradie en Melissa leer ken via NovieGuide –Edwin en Louw se aanlyn opvoedkundige platform wat sedert 2020 op die kunste fokus en onder meer meesterklasse aanbied. NovieGuide vervaardig ook advertensies en werklikheidsprogramme, en Hier|daar is hul eerste narratiewe film.  

Met die medevervaardigers, Edwin, Louw en Conradie, aan die stuur van Hier|daar-sake, is die spelers en res van die filmspan met die hand uitgekies. “Ek en Edwin het ooreengekom dat ons altyd net met mense wil werk saam met wie ons kan braai,” skerts Louw. “Met lekker mense op stel is die atmosfeer great en die kreatiwiteit hoog.”

As regisseur het Edwin groot waardering vir Hier|daar se tegniese span en akteurs:  “Filmmaak is ’n spansport, en dit was ’n voorreg om saam met hierdie energieke talentvolle mense magic te  maak.”

Conradie vertolk die rol van Liam teenoor nuweling Minke Marais, ’n honneursstudent aan die Universiteit van Stellenbosch.  

Hier|daar wys op Donderdag 24 Augustus by die Silwerskermfees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.