In Down So Long is die gemeenskap deel van die outentieke drama

Wanneer jou lewe al vir so lank opdraand loop, kan jy soms nie sien waar die afdraaipaadjies na geluk is nie. Dít is die basis van Down So Long, die uitsonderlike rolprent wat vanjaar een van die in-kompetisie-speelfilms op die Silwerskermfees is.

Joseph Mabena (Tshamano Sebe) woon saam met sy vrou, Doreen (Kadija Heeger), en hulle uitgebreide gesin in Hangberg, die informele nedersetting buite Houbaai. Almal is onder mekaar se voete en in mekaar se hare en op die koop toe staan die grond waar die gemeenskap gesetel is gevaar om in die hande van ’n gewetenlose ontwikkelaar te beland. Die enigste persoon wat teen die ontwikkelaar se planne vasskop, is Joseph.

Dan speel die noodlot nog ’n kaart: Joseph verloor ’n oog by die werk en hy kry ’n aardige bedrag as vergoeding. Skielik is sy familie baie lief vir hom en almal hoop hulle kan hulle hande op van die geld kry. Maar Joseph sien regdeur hulle plannetjies.

’n Derde noodlotskaart word gespeel wanneer Joseph op ’n aand vir Zelda (Edith Bahumi) in die plaaslike kroeg ontmoet en besluit hy wil met haar trou. Doreen en die kinders besluit hulle gaan hom vergiftig voor dit kan gebeur, maar Joseph is ’n regte kanniedood.

Down So Long is geïnspireer deur die Italiaanse fliek Ugly, Dirty and Bad (1976). Die medevervaardigers en -regisseurs is Angie Mills en Damir Radonic. Mills en Radonic was saam met Damon Heatlie vir die draaiboek verantwoordelik. Slegs drie van die akteurs in die fliek – Tshamano Sebe, Kadija Heeger en David Müller – is professionele akteurs. Die res van die rolverdeling is almal amateur-spelers uit die gemeenskap.

Die rolprent was vyf jaar in pre-produksie en die projek is deurgevoer met die hulp van die vredesonderhandelaar Brian Williams, wat al voorheen saam met Forest Whitaker se Whitaker Peace & Development Initiative gewerk het. Down So Long is binne drie weke in sy geheel in Hangberg verfilm en alle produksiedienste, behalwe vir die kamera- en klankspan, is deur die gemeenskap van Hangberg en Houtbaai voorsien.