Juffrou X, Die brug, Spinners – dís die puik nuwe kleinskermreekse met lusmaker-loodsprogramme by die Silwerskermfees

Die kykNET Silwerskermfees is sinoniem met blinknuwe films en die ontwikkeling van die plaaslike filmbedryf, maar vanjaar skyn die kollig ook op televisievermaak. Die loodsepisodes van drie puik nuwe TV-reekse wat in die toekoms kykNET- en Showmax-kykers in vervoering gaan hê, word by die fees vertoon. 

Een van die reekse is kykNET se grootste realiteitskompetisieprogram nóg  – die visueel skouspelagtige Die brug. Dan is daar ook twee indrukwekkende nuwe dramareekse: kykNET se spannende Juffrou X met Trix Vivier in die hoofrol, en Spinners, ’n ko-produksie tussen die stroomdiens Showmax en die internasionale netwerkreus Canal+. 

Die brug is geskoei op die internasionale realiteitstelevisie-fenomeen The Bridge, wat reeds kykers in Australië, Brasilië, die VK, Denemarke, Noorweë en Finland aan die gons gehad het. Dit word plaaslik deur Red Pepper Productions (Kwarantyn, Big Brother Africa, Wie word ’n miljoener?) vervaardig. 

Twaalf vreemdelinge kom langs ’n meer in ’n afgeleë, onherbergsame gebied byeen waar hulle ’n enorme taak kry: bou binne 20 dae ’n brug na ’n eiland 250 meter van die meer se oewer af. Die aansporing? Op die eiland wag daar ’n versteekte skatkis met R1 miljoen se prysgeld in kontant. Buiten die fisiese uithouvermoë en vindingrykheid wat dié missie verg, lei sulke spanwerk gewoonlik tot hard koppe stamp. Boonop is daar ’n groot kinkel in die kabel: Uiteindelik mag net een bouer oor die brug loop, en dié speler moet dan besluit of hy of sy die prysgeld gaan deel, of nie. 

Die eksklusiewe voorsmakie van Die brug by die fees vind op Donderdag 24 Augustus om 15:30 plaas. Die reeks skop op Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET af. 

In die kykNET-dramareeks Juffrou X maak ons met ’n vuurvreterwiskunde-onderwyseres kennis by ’n skool waar armoede, bendes, misdaad, drank en dwelms net so ’n groot uitdaging as die eindeksamen is. Om onderrig by Victory Heights Hoërskool te gee, moet jy senuwees van staal en ’n groot hart hê. Juffrou X kry regmerkies vir beide. Sy skroom nie om enigiets binne en buite die klaskamer – en selfs die wet – te doen om die leerders te help om bo hul omstandighede uit te styg nie. Maar wanneer ’n nuwe, dodelike dwelm in die dorp opduik, word dit ’n saak van lewe en dood. 

Tertius Kapp, die meesterlike draaiboekskrywer van rolprente soos Griekwastad, Gaia en Dis ek, Anna, is die skepper en regisseur van Juffrou X. Hy is ook in 2015 met die Hertzogprys vir drama vereer. Benewens Trix Viviers as Juffrou X, word die ander hoofrolle deur Clayton Evertson, Charlton George, Gershwin Mias en Anja Taljaard vertolk.

Juffrou X se loodsprogram wys op Vrydag 25 Augustus om 15:30 by die Silwerskermfees.

Showmax en Canal+ se Afrikaapse reeks Spinners was vroeër vanjaar die eerste reeks uit Afrika ooit om na die gesogte internasionale TV-reeksfees Canneseries in Frankryk uitgenooi te word. Die besonderse eer om in hierdie kompetisie mee te ding, val jaarliks slegs tien TV- reekse van dwarsoor die wêreld te beurt. 

Spinners is ’n aksie-dramareeks, wat draai om ’n ekstreme sportsoort, waarin Cantona James (Arendsvlei) voet diep in die hoek sit, die stuurwiel rondswaai en die wiele laat tol. Cantona vertolk die rol van Ethan, ’n goeie kind gebore in ’n slegte buurt. Om vir hom en sy jonger broer kos op die tafel te sit, het Ethan geen ander keuse as om vir ’n gewetenlose bendeleier te werk nie. Maar daar is dalk ’n ander manier waarmee hy hom kan loswikkel uit die kriminele web waarin hy vasgevang is. Ethan ontdek hy het ’n besonderse talent vir “spinning” – ’n vinnige en gevaarlike motorsport waarmee bestuurders asembenewende toertjies binne en buite hul voertuie uitvoer terwyl dit in outomatiese rat voortsnel.

Onder Cantona se Spinners-medesterre is Chelsea Thomas, Brendon Daniels en Dillon Windvogel. Die uitdagende regie is waargeneem deur Jaco Bouwer, wie se Gaia kritici wêreldwyd gaande gehad het en pas vir nege SAFTAs benoem is. Dit het, onder meer, ’n toekenning by die internasionaal hoog aangeskrewe South by Southwest-filmfees in Austin, Texas, verower. 

Spinners kom op Vrydag 25 Augustus om 20:00 by die Silwerskermfees aan die beurt.