Kapenaars kan ook Silwerskermfeesspeelfims by die Ster-Kinekor Tygervallei ervaar

kykNET se tiende Silwerskermfees skop op Woensdag 23 Maart as ’n hibriede fees af wat gelyktydig by die Bay Hotel in Kampsbaai en op die Silwerskermfeeswebwerf plaasvind. Goeie nuus vir Kaapse fliekvlooie wat verkies om rolprente op die grootskerm te sien, is dat vier van die Silwerskermspeelfilms ook by die Ster-Kinekor Tygervallei tydens die fees sal wys.

Dié films is Beurtkrag, Stiekyt, die aksiefliek Indemnity, en Suid-Afrika se eerste ekologiese guwelfiek, Gaia, wat almal hul Suid-Afrikaanse première by die fees maak. Boonop gaan die sterre van sommige van hierdie premières vooraf by van die Ster-Kinekor Tygervallei-vertonings gesig wys.

Die glanspaartjie Ivan Botha en Donnalee Roberts, wat nie net die hoofrolle in die verhoudingsdrama Beurtkrag speel nie, maar ook die film vervaardig het, sal op Vrydag 25 Maart by dié Ster-Kinekor-teater wees om fliekgangers te ontmoet. Beurtkrag handel oor ’n paartjie wat gekonfronteer word met die bagasie van hul verlede wanneer hulle saam intrek.

Daarna, ook op Vrydag 25 Maart, maak Paul du Toit en Illse Roos ’n draai by die Ster-Kinekor Tygervallei wanneer Stiekyt wys. Dié riller, wat toevallig in ’n fopdosserklub afspeel, is die verhaal van ’n akteur wat eers sy vrou se misnoeë oor sy nuwe werk moet hanteer en dan met die geheimsinnige moord op ’n kollega gekonfronteer word. Die rolverdeling sluit bekende akteurs in soos Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Albert Pretorius en Llandi Beeslaer, asook die televisie-aanbieder en kosskrywer Herman Lensing.

Hier is die volledige Silwerskermfeesprogram by die Ster-Kinekor Tygervallei:

Woensdag 23 Maart om 19:30 – Beurtkrag

Donderdag 24 Maart om 19:30 – Indemnity

Vrydag 25 Maart om 17:00 – Beurtkrag ** (Ivan Botha en Donnalee Roberts woon dié vertoning by.)

Vrydag 25 Maart om 20:00 – Stiekyt  ** (Paul du Toit en Illse Roos woon dié vertoning by.)

Saterdag 26 Maart om 17:00 – Indemnity

Saterdag 26 Maart om 20:00 – Gaia

Besoek die Ster-Kinekor-webtuiste vir meer inligting oor die kaartjiepryse en ouderdomsbeperkings van dié films.

Koop kaartjies hier.