
Kom verkoop jou idee vir ‘n fliek of TV by die kykNET Silwerskerm Silwermark
Het jy ‘n storie wat jy dink ‘n fliek kan word? Is daar ‘n leefstyl-, realiteits- of dokumentêre reeks wat jy glo gemaak moet word? Wel, nou is jou kans om van daardie droom ‘n werklikheid te maak.
Augustus is dit tyd vir die jaarlikse kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. Kortfilms, speelfilms en dokumentêre is op die program, en vir vier dae draai alles om fantastiese inhoud vir fliekteaters, televisie én stroomdienste.
Maar die fokus is nie net op inhoud wat reeds vervaardig is nie. kykNET se opdraggewende vervaardigers is ook op soek na sterk nuwe konsepte. En dit is waar alle kykers, vervaardigers en ander filmmakers met ‘n opwindende idee welkom is om by hierdie partytjie aan te sluit.
Hoe werk dit? Maak ‘n oorspronklike, kreatiewe voorstel in enige van die volgende kategorieë:
- kykNET: Realiteit en vermaak
- kykNET: Dokumentêr
- Afrikaanse speelfilms
Aansoeke open Dinsdag 5 Mei 2026 en sluit op 5 Junie 2026. Ná die sluiting sal al die aansoeke deur kykNET se inhoudspan geëvalueer word. Die inskrywers van die topvyfkonsepte in elke kategorie sal dan genooi word om by die Silwerskermfees, wat tussen 19 en 22 Augustus 2026 in Kampsbaai gehou word, hul konsep in persoon aan ‘n paneel van besluitnemers voor te lê.
Die dialoogvereiste vir alle voorstelle is 70% Afrikaans.
Wie weet? Dalk is jou storie reg om verkoop te word.
Om in te skryf, asook vir die reëls en riglyne, klik hier.