Komplekse verhouding van twee vroue belig in kortfilm ‘As ek kon kies’

Dit is maklik om te sê ’n mens het ’n keuse, maar in werklikheid is dit nie so eenvoudig nie. Buiten dat die lewe en samelewing ’n rol speel, kan jy nie altyd die omvang van die gevolge van jou keuse volkome voorspel nie.

Gedurende ’n kerkdiens word ’n jong vrou, Kyleigh (Beáta Bena), se verlowing aan ’n jong man, Jayden, gevier. Met dié openbare gebaar bevestig Kyleigh die lewe wat sy vir haarself kies ­– een van geloof, gemeenskap en familie.

Lara (Anoecha Kruger), ’n vorige partner, is ’n toeskouer by die geleentheid. Wat op die oog af ’n vrolike geleentheid moet wees, is in werklikheid vir die twee vroue die amptelike bevestiging dat hul diepgaande verhouding finaal verdoesel word. Hulle wil bitter graag na mekaar uitreik en sê wat nie gesê mag word nie, maar elkeen moet haar pyn alleen verwerk, die swye handhaaf.

Die skrywerregisseursduo Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst staan bekend as Unusual Bones. Hul eerste kortprent, ekstasis (2021), het pryse gewen by die Cannes Young Directors Awards en die Joburg Film Festival (2021) en die Silwerskermfees in 2022. Dit is ook by verskeie ander rolprentfeeste oor die wêreld heen vertoon. Hul kortfilm ’n Doop om stilte (2023) het by die Silwerskermfees gedebuteer, waar die duo die prys vir beste regisseur en beste kortprent gewen het.

Vrae aan Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst, regisseurs en medeskrywers

Is daar ’n onderverteenwoordiging van stories wat fokus op intieme verhoudings tussen vroue binne die Afrikaanse milieu? Hoekom is dit so?

Ja, ons glo definitief dat intieme verhoudings tussen vroue nie binne films of stories gesien word nie. Nie net in Afrikaans nie, maar in baie tale en kulture oor die wêreld heen. Nietemin, ons weet dat die Afrikaanse kultuur hoofsaaklik baie konserwatief is, dat daar ’n geskiedenis van “ordentlikheid” en “aanvaarbaarheid” daarmee saamkom. Wat dit soveel meer kompleks maak, is die feit dat baie van die Afrikaanse kultuur binne ’n Christelike geloof gebou is, en dat daar binne geloof dikwels op die verhoudings neergekyk word. Dit beteken nie dat dit nie bestaan nie, maar dat mense bang is vir stories wat nie soos hulle eie stories lyk nie. Veral omdat die tipe stories jou kan laat bevraagteken wat jy vir jouself glo en wat as waardig beskou word.

As ek kon kies raak heelwat temas aan. Dit begin immers in ’n kerk. Wei uit asseblief.

Een van die belangrikste elemente binne die film was om eerlik te wees oor hoe baie kontras daar in die lewe is. Hoe ’n mens kan “behoort” in beide jou geloof en binne jou eie seksualiteit. Hoe ’n oomblik van jou grootste vreugde ook ’n oomblik van jou grootste hartseer kan bevat. Hoe ’n mens kan vrede hê met jou keuses, en tog daaroor kan treur. Dis iets wat ons almal so intiem ken – dat die lewe uit keuses bestaan, maar dat dit nie altyd daardie keuses maklik maak nie.

Dit is ’n interessante titel, want mense kan kies, of dikteer die samelewing steeds, en hoe? Is daar ’n boodskap wat julle wil oordra.

Vir ons is dit minder oor jou eie keuses en wat die samelewing vir jou kies – alhoewel dit altyd tot ’n mate sal bestaan – maar meer oor hoe ’n mens self nie altyd seker is oor die keuses wat jy maak nie. Die titel dien as ’n uitnodiging om te vra of ’n mens werklik altyd “kan kies”? Of glo jy dat jy nie kan kies nie? Sou ’n mens anders kies as jy weer die kans kry? En is ’n mens se keuses altyd eenvoudig, of dra dit komplekse nagevolge saam?

Vertel meer van julle kollektief, Unusual Bones, en julle etos. Hoe kies julle projekte waarby julle betrokke raak?

Unusual Bones het ontstaan uit ’n wete dat ons dinge ’n bietjie “anders” wou doen. Nie een van ons het formele onderrig in film nie, maar ons het geweet dat ons glo in stories en hoe dit ’n mens kan uitnooi om dinge anders te sien, anders te ervaar, maar so ook dat die metode van skep anders kan lyk. Wat vir ons belangrik is as ’n kollektief, is dat projekte iets binne ons aanraak, dat dit met ’n eerlikheid aangepak word en dat ’n veelsydigheid van stemme betrek word.

Volgens julle webwerf werk julle tans aan julle eerste vollengte-speelfilm. Vertel meer.

Inderdaad! Ons het in 2023 die kortfilm ’n Doop om stilte vir die Silwerskermfees geskep.  Die kortfilm se tema en styl het as die oorsprong van ons speelfilm gedien. Die film speel in ’n klein myndorpie af waar ’n jong meisie, Isabel (15), haar broer, Joshua (13), stadig maar seker aan volwassenheid en die samelewing se verwagtinge moet afstaan.

Die film kom al ’n lang pad en ons is so dankbaar dat ons die laaste twee jaar aktief die film met internasionale vervaardigers, markte en agentskappe kon deel, wat stadig maar seker help om fondse in te samel vir die speelfilm. As alles op dreef bly, sal ons dit volgende jaar verfilm en kan gehore dit later in teaters sien.