Koors: Dié kortfilmkomedie draai nie doekies om oor dáái tyd van die maand nie 

Vir eeue lank was menstruasie ’n taboe-onderwerp. Sommige patriargale kulture het selfs vroue as “onrein” beskou tydens dié heeltemal natuurlike biologiese proses wat min of meer 400 keer in ’n leeftyd plaasvind. 

Waarom is vroue vandag nog ’n bietjie skaam oor hul maandstondes? Waarom gebruik ons steeds eufemistiese beskrywings soos “daai tyd van die maand”, “die rooi karretjie” en “kalenderkoors”?  

Die feit bly staan. Dis nie juis iets waaroor die skoner geslag wil jubel nie. Dis pynlik; dis ongemaklik; mans is tog te lief om grappies oor PMS se emosionele wipwarit te maak – en behoede jou as ietsie lek!

In die “waaghalsige” komedie Koors spreek die draaiboekskrywer en regisseur Bianca Bothma dié onderwerp trompop met ’n aweregse skeut humor aan. Koors draai om die ambisieuse Simone wat nét voor ’n belangrike raadsaalvoorlegging aan hardekoejawelmans ’n verrassinkie in die dameskleedkamer kry. Om dit te vererger, is daar ’n probleem met haar enigste tampon. 

Bianca erken dat die geheimsinnigheid rondom menstruasie haar nog altyd gefassineer het. “Die stigma is verstaanbaar, maar glad nie logies nie.” 

Met Koors wou Bianca nie net dié raaisel op die voorgrond plaas nie, maar ook meer openlik wees oor haar eie ervarings. “Hoe affekteer dit my, en wat is ek bereid om te erken? Ek hoop ook dat ek self, en ander soos ek, in die toekoms die vrymoedigheid sal hê om sonder skaamte hardop te vra: ‘Het iemand dalk vir my ’n tampon?’ ”

Die hoofkarakter in Koors, wat natuurlik worstel met die stigma wat steeds aan maandstondes kleef, word briljant vertolk deur Mandri Sutherland, ook bekend as die Instagram-sensasie “Vroudrie”.

Mandri, wat ook al met haar eenvrouvertoning Vrou ens., haar besonderse slag met die komiese sy van die Afrikaanse psige gewys het, het dadelik ingestem toe Bianca haar genader het om Simone te speel. “Daar is ’n authenticity aan die karakter waarby ek aanklank vind.”

Koors se vervaardiger, Louis du Preez, was net so opgewonde oor Simone se storie. “Ek is omring deur vroulike energie in my huis (‘n vrou en twee dogters) en het op ’n sekere vlak geresoneer met haar penarie.” 

Beide Bianca en Louis was al in ander hoedanighede betrokke by Silwerskermfees-suksesverhale. 

Een van Louis se eerste ervarings op ’n filmstel was as produksie-assistent van die 2013-kortfilmwenner, Toevlug. Daarna het Louis verskeie agter-die-skerms-posisies op feesfilms soos Skoon en Slaaf beklee. Die hoogtepunt was egter as lynvervaardiger van die speelfilm Gaia, wat verlede jaar talle Silwerskermfeestoekennings ingeryg het. 

Bianca het ’n benoeming vir haar redigering van 2017 se beste kortfilm, Versnel, ontvang.  

In die bedryf is Louis glo bekend vir al die lysies wat hy opstel, want sy leuse is “beplanning verlig spanning”. Sou hy dié raad vir Koors se onvoorbereide Simone gee? 

 “Die noodlot het sy mes vir Simone ingehad,” sê Louis. ”Nie veel wat ’n lysie sou verrig nie.”

Koors wys op Woensdag 23 Augustus om 10:30 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.