


Kortfilm ‘Short Back & Sides’ ’n ode aan vroue, al is die hoofkarakter ’n man
’n Sosiaal ongemaklike jong man sluit hom af van die wêreld in sy chaotiese woonstel in Johannesburg, waar hy skuiling vind in ’n skynwêreld van speletjies.
Maar danksy die hulp en volharding van twee vroue, word Freek (Ruan Wessels) nie toegelaat om agter sy sinisme en stil woede weg te kruip nie. Fernanda (Heléne Lombard), die haarkapper met haar eie letsels, herken iets in hom en oorrompel hom met haar ruimhartigheid. Sy leer hom wat die waarde van gemeenskap en vriendskap is.
So word hy ook aangemoedig om uit te reik na sy jare lange en beste vriendin, Mandie (Megan Vorster), waarmee hy ’n stel afgetrap het. Want “mense kort mense”. Stelselmatig kruip hy nie net uit sy dop nie, maar orden ook die chaos, waarvan die waarde van ’n goeie haarsny nie onderskat moet word nie…
Vrae aan Hennie van Deventer, skrywer-regisseur, wie se debuut-kortfilm by die Silwerskermfees vertoon word.
Die hoofkarakter sonder hom af en vermy mense. Hy bring meer tyd voor skerms deur as om sosiaal te verkeer. Voordat ons by Freek spesifiek uitkom, wei bietjie uit oor die breër tema van jong mense se afhanklikheid van skerms. Is dit ’n probleem?
Dit kan problematies wees, ja. Daar is wêreldwyd ’n beweging om jong mense te beskerm teen oormatige blootstelling aan skerms, soos byvoorbeeld die sosialemedia-beperkings vir kinders onder 16 wat onlangs in lande soos Engeland en Australië bekend gestel is. Skerms verdwyn egter nie ná jy 16 word nie en dit dra toenemend by tot isolasie onder mense van alle ouderdomme. In Freek se geval is die skerm nie die rede vir sy isolasie nie, maar eerder ’n simptoom daarvan.
Freek se redes vir sy isolasie strek ook verder. Dit hou verband met verhoudings, spesifiek sy pa. Vertel meer oor hierdie tema. Ook hoe dit visueel verken word.
Freek het grootgeword in ’n huis waar hy op eiers moes loop, en het baie vroeg geleer dat hy nie noodwendig kan staatmaak op die volwassenes in sy lewe om vir hom standvastigheid te gee nie. As jong volwassene het hy heeltemal oorreageer op daai lewensles: Die beste manier om standvastigheid vir jouself te waarborg, is om ander mense uit jou lewe te sluit en net op jouself staat te maak.
Freek se flat is sy wegkruipplek, en dis hoekom dit donker en intiem voel daar. Dis nie ’n tronk nie, maar eerder ’n kokon (soos Fernanda sê) waar hy afgesonder is van die wêreld en waar hy veilig voel. Maar dis ook wat hom terughou van groei – hy’s vasgevang in die gemak van sy kokon.
Dit is twee vroue wat hom aanmoedig en help om uit sy dop te kruip. Vertel meer van hulle en die keuse van die spesifieke karakters wat jy ingespan het?
Ek het vroeg al besef dat die storie eintlik gaan oor vroue, al is die hoofkarakter ’n man. Mandie sien Freek se potensiaal raak lank voor hy dit self raaksien. Fernanda sien watter keuse hy moet maak oor wie hy wil wees. Dit verg die vroue in sy lewe om vir Freek ’n spieël op te hou en hom te dwing om eerlik na homself te kyk. Want vroue weet hulle eie veiligheid hang dikwels af van hoe goed hulle die mans in hul lewens kan raaksien.
Tematies werk jy ook met chaos, wat georden moet word. En fisieke voorkoms hou ook verband hiermee. Vandaar ook die titel. Wei bietjie uit hieroor.
Freek se hare was simbolies van die chaos van sy karakter, maar ook van die chaos om my eerste film op ’n baie klein begroting te maak! Ons het aanvanklik gekyk na pruike en “hair extensions”, oor probleme met kontinuïteit, maar het vinnig besef dit sal nie geloofwaardig lyk nie. Angelique Eksteen, wat wonderwerke verrig het met garderobe, grimering en hare, het Ruan se eie hare gesmeer en gedraai en geplak en met knippies vasgemaak om die illusie te skep dat dit korter is as wat dit regtig is vir die tonele voor en tussenin Freek se haarsnitte. Lessie geleer: Los die stories oor haarsny vir wanneer daar ’n begroting is vir goeie pruike en extensions!
In terme van die temas was dit ’n maklike metafoor vir Freek se reis. Hoe meer hy van homself begin hou het, en hoe meer hy gekies het om die weergawe van homself te wees wat ander reeds raakgesien het, hoe netjieser was sy hare.
Die prent is verfilm in Johannesburg, in die voorstad Linden. Is dit waar jy grootgeword het? Kry Johannesburg genoeg aandag in films, en nie net as die gewelddadige stad en die Goudstad nie?
Ek het in Pretoria-Oos grootgeword, maar het in my vroeë twintigs in Linden gebly. Vandag, twee dekades later, bly ek steeds ’n klipgooi van die buurt af. Dis een van my gunstelingplekke in Johannesburg en is tekenend van die stad self: ’n Plek van kontras en kreatiwiteit en chaos en gevaar en skoonheid en opwinding. Dit was vir my belangrik om Linden opsigtelik deel te maak van die storie se wêreld, juis omdat Johannesburg afgeskeep word in film. Daar’s ’n energie hier wat jy nêrens anders kry nie en in baie opsigte voel Johannesburg soos die plek waar die land gebeur. Daar’s nie ’n Suid-Afrika sonder Joburg nie.
Die kortprent is jou debuut in die narratiewe vorm. Is daar nog stories wat jy wil vertel?
Ja, absoluut. Ek’s bevrees die gogga het gebyt en nou is ek verslaaf. Daar’s ’n hele rits idees in verskillende fases van ontwikkeling.
Enigiets anders wat jy met die kykers wil deel?
Die toneel waar Fernanda in die rolstoel is en Freek se hare met die hulp van haar vriendinne sny, het regtig met my gebeur. Dis die inspirasie vir die storie: Sowat 12 jaar gelede het ek na my gewone haarkapper gegaan, ’n ouer Portugese vrou genaamd Fernanda (see what I did there?), en daar’s sy in ’n rolstoel omring deur vier van haar luidrugtige Portugese vriendinne, almal praat gelyk en lag en gesels en gaan tekere terwyl sy my hare sny. Ek het toe al gedink dis so ’n mooi oomblik van vriendskap en gemeenskap en “showing up for your friends”. Toe ek aan storie-idees gedink het om in te skryf, was dit die eerste een wat by my opgekom het. Maar een toneel maak nie ’n storie nie, toe kom Freek en Mandie en die fliek se weergawe van Fernanda in die prentjie.
Uiteindelik is dit ’n baie persoonlike storie, baie meer as wat ek aanvanklik gedink het dit sal wees. Freek is nie heeltemal op my gebaseer nie, maar ons deel genoeg DNA dat ons beslis familie is.