



Kortfilm ‘Verwerking’ bied ’n blik op geweld deur op die skryfproses te fokus
Die skryfproses en die impak van ’n dramatiese verhaal op die skrywer word ondersoek in die kortfilm Verwerking, wat einde Augustus by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad debuteer.
’n Draaiboekskrywer, Jason (Jaques De Silva), stoei met ’n toneel oor geslagsgebaseerde geweld. Terwyl hy koorsig by sy lessenaar sit en tik, begin die woorde die werklikheid om hom vervorm. Die woord “Ma” (Bianca Flanders) op die bladsy laat ’n vrou in die vertrek verskyn; die woord “Pa” (Stian Bam) ’n man om haar te slaan. Tyd en ruimte word vervleg en skielik staar die skrywer hom vas in ’n gruwelike oomblik wat al jare by hom spook.
Verwerking is Peter-John Titus, ’n musikant-liedjieskrywer, se kortprent-debuut as filmmaker.
Vrae vir Peter-John Titus, skrywer en regisseur
Hoekom ’n verhaal spesifiek met geslagsgebaseerde geweld (GBV) as tema?
Ek sou nie sê GBV is die sentrale tema nie. Ek wou met hierdie kortfilm ondersoek instel na die kreatiewe proses van kunstenaars, spesifiek draaiboekskrywers. Wat gebeur in hulle koppe? Wat sien of hoor hulle as hulle stories skryf? Hoeveel van dit wat hulle skryf kom uit herinneringe? GBV is sentraal tot ons hoofkarakter se verborge verlede. Alhoewel die tema van die film die kreatiewe proses is, is GBV die storiemasjien wat die storie ontknoop.
Jy fokus ook op die kompleksiteit van gewelddadige verhoudings. Wei asb. uit hieroor.
Mense is kompleks, nie een persoon se denkraamwerk is dieselfde nie. Die redes hoekom die geweld ontstaan, is soms voor die hand liggend en soms nie. Dit beteken nie ek verskoon die fisieke of psigologiese geweld nie, al wat ons kan doen is om ’n spieël op te hou wat die waarheid van die wêreld wys. My poging is dus om ’n karakter se storie met geloofwaardigheid en deernis te vertel.
Watter rol kan so film speel in bewusmaking? En wie mag hierdie stories vertel?
Verwerking – soos die film Sewe (oor ’n vrou wat keer op keer probeer om haar gewelddadige man te verlaat) wat laasjaar by die Silwerskermfees gedebuteer het – het die mag om gesprekke uit te lok, ’n nuwe perspektief te skep, en hopelik introspeksie te bevorder.
Ek dink almal mag die hierdie stories vertel, met sensitiwiteit in gedagte. Die feit dat GBV uit ’n man se perspektief belig word, skep ruimte vir mans om hulle stories te vertel, nie net as kwaaddoeners nie maar ook as slagoffers.
Jy span verskillende genres en style in. Vertel meer, ook oor die motivering daarvoor.
Ek span beslis verskillende genres in deur Jason se verbeelding wat manifesteer in sy huis terwyl hy skryf. Tydens die voorproduksie het ek ’n bietjie navorsing gedoen oor die ooreenkomste tussen kunstenaars en neurodiversiteit en het so op die karaktereienskappe van hiperfantasie afgekom. Dit het my opgewonde gemaak om met die verskillende genres te speel, want dit kom natuurlik vir my hoofkarakter. Ek kon ook eksperimenteer met verskillende sosio-ekonomiese klasse, taalpolisiëring en dialekte om te wys hoe Jason se verbeelding nie net sy innerlike wêreld ontbloot nie, maar ook die sosiale werklikhede, magsverhoudinge en herinneringe wat sy trauma gevorm het.
Wat is die gedagte agter die titel? Is dit waar die hoop lê?
Die titel is dubbelsinnig, ’n woordspeling as jy wil. Jason verwerk sy psigologiese trauma, terwyl hy daardie selfde trauma in ’n draaiboek in verwerk.
Ek glo daar is seer sekerlik hoop. Ek dink as ons mans bou op wat die vroue van Suid-Afrika reeds vermag het deur GBVF as ’n nasionale ramp te laat verklaar, gaan ons as ’n nasie groter hoogtes bereik.