Kortfilm ‘Wag ’n bietjie’ is ’n wekroep om daadwerklik te begin leef

Om te wag, is vir meeste mense ’n pyniging. En vir Suid-Afrikaners is ’n toustanery ’n ware foltering. Die prentjie sien wel gans anders daar uit as dit is hoe jy jou brood en botter verdien. Soos ’n professionele toustaner wat geduldig (en teen betaling) namens ander wag om netelige administratiewe take af te handel…

Lionel (Danny Ross) het so half toevallig daarmee begin, en toe hou hy net aan. Hy is inderwaarheid ’n bekende gesig by staatsdepartemente. Op ’n dag kry hy die aardigste versoek van ’n vreemde man (Germandt Geldenhuys) in die tou: Om by sy sterwende ma (Elzabé Zietsman) te waak tot sy haar laaste asem uitblaas.

Christian Grobbelaar, skrywer-regisseur van Wag ’n bietjie wat by die kykNET Silwerskermfees gaan debuteer, het aanvanklik ’n riller in gedagte gehad, maar weens ’n persoonlike rouproses het hy uiteindelik ’n diep menslike kortprent geskep wat deels handel oor ’n baie bekende tema: die dood. Die interessante invalshoek het hom egter die geleentheid gegee om die tema anders te belig, rond te speel en af te wyk van ’n geykte benadering. Terselfdertyd herinner hy mens daaraan dat jy nie jou lewe om moet wag nie.

Jy verklaar dat jou spesialisgenre eintlik rillers is. Waar kom die idee vir Wag ’n bietjie vandaan? Het jy dalk in ’n tou gestaan toe jy daaraan gedink het?

Die idee het oorspronklik as ’n riller begin, maar my partner het voorgestel dat ek die storie aanpak sonder dié genre-lens. Ek was in die proses om oor my ma te rou, en hierdie storie het ’n vorm van terapie geword.

Die legkaart van die storie het soveel brokkies wat uiteindelik mooi by mekaar ingepas het. Ek was besig om na ’n grief podcast te luister. Wat vir my uitgestaan het, was dat party mense bly was dat hulle daar was tydens hul naasbestaande se laaste oomblikke, maar vir ander was dit traumaties. Daar was geen reg of verkeerd nie en daardie tipe grys area was vir my baie interessant. Toevallig die oggend wat Silwerskerm se inskrywings geopen het, het ek ’n artikel gelees oor ’n man wat namens mense wag by binnelandse sake. Die idee dat mens iemand kan kry om jou plaasvervanger te wees tydens die moeilikste wagtery van jou lewe het dadelik soos iets gevoel wat ek wou aanpak.

Om by ’n sterwende (onbekende) vrou se bed te waak tot sy haar laaste asem uitblaas, klink nogal morbied, maar Wag n bietjie is nie. Hoe belangrik is humor in n prent?

Vir my was dit belangrik om hierdie nie as ’n baie morbiede narratief te sien nie. Hierdie hele proses is absurd. Hospitale, hospices, die dood, dis alles vreeslik ongemaklik en soms snaaks tussendeur al die hartseer – en ek wou daardie gevoel vasvang. Vir my was hierdie storie van die begin af ’n celebration van wat dit beteken om te lewe, en hoe waardevol dit is om te lewe. Hoewel daar hartseer oomblikke is, is daar net soveel, indien nie meer nie, ligte oomblikke.

Vertel meer van die proses om die ruimte van die vrou se slaapkamer te skep, want oorspronklik was daar net ’n bed. Wie het watter rol gespeel om so deurleefde ruimte te skep?

Ek het deur hierdie huis tydens ’n location scout vir ’n ander projek geloop en die vreemde argitektuur, warm tones en gevoel van die huis het my bygebly. Oorspronklik wou ek ’n woonstel hê vir die huis, maar soos die storie ontwikkel het, het ek meer potensiaal in ’n huis begin sien.

Ek het redelik vroeg in die proses na my artistieke regisseur Rey Yates toe gegaan en gesê ek wil hierdie vrou se hele lewensverhaal vertel slegs deur rekwisiete en hoe ons die huis meubileer, en sy het dadelik ingespring. Ons het baie inspirasie uit Samuel van Hoogstraten se stillewes geput. Ek is aangetrokke tot die manier hoe hy in ’n enkele skildery so baie tekstuur en menswees kan vasvang slegs deur alledaagse items saam te sit.

Ja, die kamer het net mooi niks in gehad behalwe daardie uitsonderlike bed nie. Maar met al die houtteksture, en mid-century-karakter het ek geweet dit gaan ons baie help – veral met ’n beperkte begroting. Elzabé was ook baie vrygewig met ’n pak foto’s wat van haar kinderjare tot nou strek. So het Rey en haar span daardie kamer van hoek tot kant bedek met allerhande dingetjies. Jy kon enige laai oopmaak en dit was volgepak.

Die doel was om haar hele storie te vertel deur die stel en ek dink dis presies wat ons gedoen het.

Vertel meer van jou konsep oor tyd, en as tema. Haat jy dit om te wag? Hoe vul jy jou ure?

Ha-ha, ek haat dit nie om te wag nie, veral as ek weet daar is ’n einde in sig. Dis die nie-weet-nie wat wag so pynlik maak. Ek wou graag ’n storie vertel wat die idee van wag aanpak, want ek dink op ’n sekere vlak wag ons almal vir iets. Ons wag vir daardie bevordering, ons wag vir die regte geleentheid, tot ons afgetree het, tot ons daai huis afbetaal het, ons wag vir beter dae. As ons aanhou wag vir iets om te gebeur wat alles gaan verander, gaan een van twee dinge gebeur: Daardie oomblik gebeur nooit nie, of dit gebeur, maar die uitkoms daarvan is die lewe gaan aan. Dis maklik om te sê ‘hou op wag, die lewe is kort’, maar om werklik moeite te doen om jou lewe te geniet, is baie moeilik.

Ek probeer my ure vul met bietjie meer intensie. Ek geniet ’n stappie na die koffie-shop toe in plaas van om te ry. Ek geniet ’n fliek, want ek kan sonder my foon wees vir twee ure. Ek geniet ’n lekker rillerboek, ’n aand saam met vriende om die eetkamertafel en ek geniet dit om die wêreld te verken. Ek dink ons probeer so connected wees die heeltyd dat ons al hoe meer sukkel om net present te wees en die wêreld om ons te geniet. Ek voel elke dag is ’n stryd om teen die aandagdiewe in my sak te veg.

Mens moet nie so vasgevang word in die day-to-day-besigheid van lewe dat mens al die magic en wonder mis nie. Die lewe kan nie net oor werk en slaap gaan nie. Ek het ’n boek gelees waarin daar verwys word na die konsep van memory dividends, dit wil sê maak memories vroeër en geniet hulle vir langer, en dis iets waaraan ek konstant dink.

As jy die wêreld se tyd het om ’n prent te maak (’n begroting wat nie knap is en ’n spertyd wat jou nie jaag nie), wat is die prent wat jy die graagste sal wil maak?

Sjoe, op hierdie stadium is my droomprojek ’n grootskaalse riller. Die idee kom al ’n lang pad, dit gaan oor mans se verhouding met kos en hul liggame. Dis een van daardie idees wat my net nie wil los nie, so ek voel die enigste manier om myself te ontboei van die idee is om dit ’n realiteit te maak. So, enige beleggers wat lus is om te belê in kosdemone… gee vir my ’n luitjie.

Wat maak jou bang?

Soos wat ek ouer word, pop daar nuwe vrese op. Ek dink psigiese vrese vang my meer die laaste ruk. Soos om weg te dryf in die ruimte, die konsep van ewigheid en groot massas water. Ek glo vas dat enigiets mens bang kan maak met genoeg verbeelding: So gee vir my ’n sak vol dinge, ’n kamera en ’n akteur en ek is seker ons kan jou hoendervleis gee.