Kortfilm ‘Yaadt Queen’ belig unieke aspekte van Kaapse Vlakte, bou brûe met musiek

Musiek as ontvlugting is ’n bekende tema onder filmmakers. Dit is ook ’n goeie werktuig om ’n grootwordstorie te vertel vir ’n jongeling om hul stem te vind. Yaadt Queen onderskei homself van die gewone deur die storie in die eiesoortige ruimte van die Kaapse Vlakte te plaas met musiek wat nie so algemeen bekend is nie, yaadt en gqom.

Keisha (Chanté Grainger) se verhouding met haar ma, Ruth (Kim Syster), is besonder stram. Al wanneer die stil, skaam tiener van haar ma se wakende oog kan wegkom, is om met die hulp van haar vriend (Alvaune-Lee Lewis) te ontsnap en as DJ haar slag te wys op die yaadt-toneel.

Uiteindelik bevry die waarheid die ma en dogter en word daar brûe gebou tussen generasies, net soos die verskillende soorte musiek bewys dat grense afgebreek kan word.

 

Vrae vir Kyle Morkel en Kirsten Jaftha, skrywer-regisseurs

Yaadt en gqom. Heelwat mense sal nie eens weet waarna die twee woorde verwys nie. Vertel meer van dié musiek en hoe dit inpas in die wêreld van die Kaapse Vlakte.

Yaadt is ’n musiekgenre wat op die Kaapse Vlakte ontstaan het. Dit gaan oor sampling, om bekende liedjies te neem en dit te verwerk sodat dit gepas is vir die yaadt (smokkies en huispartytjies).  Enigiets van Adele tot Bok van Blerk se “Lemoene” kon omskep word in iets waarop mense kon verder jol.

Dit is nooit bedoel as ’n spottery nie, maar ’n viering van die oorspronklike musiek. Destyds het ons dikwels nie eens geweet wie die remix gemaak het nie; ons het net die musiek geniet en saam gekuier.

Gqom is ’n elektroniese African sound wat in Durban ontstaan het. Die genre het vinnig gewild geraak onder jongmense. Vir baie van ons was Distruction Boyz se “Omunye” die eerste kennismaking met gqom. Toe Temple Boys later ’n Afrikaanse gqom-treffer uitbring, het die liefde vir die genre verder versprei op die Kaapse Vlakte.

Keisha kombineer hierdie twee wêrelde. Só eer sy haar pa se  nalatenskap, maar skep ook haar eie unieke klank.

Dit is ’n eietydse storie, maar die geskiedenis en geweld speel ’n rol. En die gaping tussen generasies is ook van belang. Vertel meer.

As jong bruin filmmakers voel ons dit is belangrik om ons gemeenskappe eerlik en outentiek uit te beeld. Film behoort nie net vermaak te wees nie; dit moet ook ruimte skep vir mense om hulself en hul ervarings op die skerm te herken.

Baie mense van kleur in Suid-Afrika word sonder ’n vaderfiguur groot. Kirsten het self eerstehands die impak ervaar van hoe bendegeweld op die Kaapse Vlakte ’n vaderfiguur kan wegneem. Sulke trauma maak dikwels dat ouers uit vrees hul kinders probeer beskerm teen die wêreld. Dit is verstaanbaar, maar dit kan ook veroorsaak dat mense ophou droom.

Yaadt Queen gaan uiteindelik oor genesing. Dit gaan oor hoe ons kan beweeg van oorlewing na werklik leef. Ons erken die uitdagings waarmee baie gemeenskappe steeds worstel, maar ons wou ook die dinge vier waarop ons trots is: ons musiek, ons humor, ons veerkragtigheid, ons kreatiwiteit en ons vermoë om steeds hoop te vind.

Julle beklemtoon die belang om opkomende talent te steun en plaaslike stories te vertel. Wat was die inspirasie vir Yaadt Queen?

Yaadt Queen is die soort film wat ons graag as jongmense sou wou kyk. Ons het grootgeword met inspirerende films oor jong mense wat hul drome najaag en hul plek in die wêreld vind.

Een van ons grootste references was Honey (2003). Ons wil meer sterk jong hoofkarakters op die skerm sien wat soos ons lyk, soos ons praat en soortgelyke lewenservarings het.

Films soos Step Up en Stomp the Yard het ons ook geïnspireer, maar ons wou daardie energie vertaal na ’n Suid-Afrikaanse konteks. Die DJ-kultuur is tans ongelooflik sterk, en musiek was nog altyd iets wat gemeenskappe bymekaarbring. Dit strek verby ouderdom, kultuur en agtergrond. As die beat lekker is, jol almal saam.

Yaadt Queen werk baie sterk met kontraste. Kan julle uitwei hieroor?

Vir Keisha verteenwoordig musiek vryheid, identiteit en geleenthede. Vir haar ma, Ruth, is dieselfde musiek ’n herinnering aan verlies, pyn en gevaar. Wat vir Keisha soos fun of ’n avontuur lyk, voel vir Ruth soos ’n bedreiging.

Hierdie kontras is ook visueel deurgetrek. Die huis wat Keisha ingeperk laat voel, terwyl die yaadt-wêreld buite ruimte bied vir selfuitdrukking en vryheid.

Ons het baie aandag gegee aan die unieke teksture, kleure en ritme van die Kaapse Vlakte. Die yaadt-toneel is rou, onvolmaak en eg, en juis daarin lê sy skoonheid. Ons doel was nie om die gemeenskap te verander vir die kamera nie, maar om die bestaande skoonheid daarvan uit te lig.

Watter stories wil julle nog vertel, en in watter genre werk julle die graagste?

Ons is albei lief vir humor. In ons persoonlike lewe maak ons gedurig grappies en tree ons amper op soos stand-up-komediante vir ons familie en vriende.

Ons wil graag meer inspirerende, familievriendelike inhoud skep sonder om weg te skram van belangrike vrae en temas. Ons sien onsself veral werk in die ruimte tussen komedie en drama, dalk selfs aksiekomedies of buddy-films, dis waarvan ons oumas baie gehou het.

As kinders het die televisie ons familie elke aand bymekaargebring. Ons droom is om dieselfde ervaring vir ander mense te skep, om gemeenskappe bymekaar te bring rondom stories wat hulle laat lag, dink en voel.

Enigiets anders wat julle met die kykers wil deel?

Die film lê baie na aan ons harte. Dit is besonders om dit saam as familie te kon maak. Ons oumas, Maude en Mary, was tweelingsusters, en daarom het ons ons produksiemaatskappy Maude & Mary Studios genoem.

Kyle en ek droom al saam van kleins af. Om nou daardie drome te sien realiseer, voel amper onwerklik.

Ons is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid om hierdie storie te kon vertel. Geen film word alleen gemaak nie, dit verg ’n hele gemeenskap.