kykNET-dokkie belig impak van Silwerskermfees
Tien jaar gelede was die Suid-Afrikaanse filmbedryf in ’n doodloopstraat. Minder as ’n handjievol Afrikaanse rolprente kon hul weg na die silwerdoek baan, die gebrek aan befondsing het bestaande filmmakers gepootjie en die pad vorentoe vir ’n nuwe geslag filmmakers het bloot nie bestaan nie.
kykNET se gesogte Silwerskermfees het gelukkig dié somber prentjie met mening aangespreek. ’n Spesiale eenmalige dokumentêre program ter viering van die fees se tiende bestaansjaar in 2022 laat die kollig val op die konstante stroom kleurvolle rolprente in verskeie genres wat deesdae jaarliks onder die Silwerskermfeesvaandel gemaak word en deur die fees se kortfilmprojek gevoed word.
Dié dokkie getiteld Agter die Silwerskerm – 10 Jaar word op Sondag 12 Februarie om 21:00 uitgesaai op kykNET, kanaal 144 op DStv.
Silwerskermfeesstigters Karen Meiring en Jan du Plessis vertel meer oor die fees se ontstaan, beginjare, filosofie en groei, terwyl prominente rolspelers hul menings oor die fees se impak lug. Talle vooraanstaande filmmakers wat hul eerste treë in die bedryf as deel van die kortfilmprojek gegee het, deel ook hul suksesstories eerlik en sonder fieterjasies.
Onder dié Silwerskermfeeskortfilmalumni tel die formidabele filmmaker Christiaan Olwagen wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Amy Jephta en Ephraim Gordon van Nommer 37- en Barakat-faam en die filmmakerpaartjie Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie en Toorbos vervaardig het.
Voorts bevat die Silwerskermfeesdokkie allerlei staaltjies oor die maak van die speelfilms wat oor die jare heen toekennings by die fees ingepalm het, asook argiefmateriaal. Vervaardigers, regisseurs, teksskrywers en redigeerders praat prontuit oor die pad wat hulle saam met die fees én kykNET gestap het en hoe dit hul loopbane ’n hupstoot gegee het.
Maar waarom was Marius Weyers in trane ná Dis ek, Anna se première? Wat het tydens Arnold Vosloo se eerste fees gebeur? Vind uit op 12 Februarie.
Agter die Silwerskerm – 10 Jaar is vervaardig deur Sentient Creative vir kykNET.
Volledige lys van onderhoude:
Jan Du Plessis
Dani Bester
Salmon de Jager
Karen Meiring
Ricky Human
Elle Oosthuizen
Wim Steyn
Nicola van Niekerk
Kaye Ann Williams
Suzaan Keyter
René van Rooyen
Corné van Rooyen
Beer Adriaanse
Jorrie van der Walt
Eva Du Preez
Christiaan Olwagen
Bennie Fourie
Travis Taute
Etienne Fourie
Tertius Kapp
Ephraim Gordon
Amy Jephta
Arnold Vosloo
Jaco Bouwer
Vir Sentient Creative
Vervaardiger en regisseur Haddad Viljoen
Kinematograaf Charl Fraser SASC
Kamera assistent Kyron Currie
Klank Warren Frense
Tony Honeybun
Ontwerp en animasie Gordon Bakkes
Redigeerder Regardt Visser
Musiek en Finale Meng Paul Vermaak
Beeldmenger Charl Fraser
Produksie Augusta Zietsman
Stilering Angelique Eksteen
Navorsing Anneke Borman
Teks-struktuur Augusta Zietsman
Subtitels Augusta Zietsman