kykNET-dokkie belig impak van Silwerskermfees

Tien jaar gelede was die Suid-Afrikaanse filmbedryf  in ’n doodloopstraat. Minder as ’n handjievol Afrikaanse rolprente kon hul weg na die silwerdoek baan, die gebrek aan befondsing het bestaande filmmakers gepootjie en die pad vorentoe vir ’n nuwe geslag filmmakers het bloot nie bestaan nie.

kykNET se gesogte Silwerskermfees het gelukkig dié somber prentjie met mening aangespreek. ’n Spesiale eenmalige dokumentêre program ter viering van die fees se tiende bestaansjaar in 2022 laat die kollig val op die konstante stroom kleurvolle rolprente in verskeie genres wat deesdae jaarliks onder die Silwerskermfeesvaandel gemaak word en deur die fees se kortfilmprojek gevoed word.

Dié dokkie getiteld Agter die Silwerskerm – 10 Jaar word op Sondag 12 Februarie om 21:00 uitgesaai op kykNET, kanaal 144 op DStv.

Silwerskermfeesstigters Karen Meiring en Jan du Plessis vertel meer oor die fees se ontstaan, beginjare, filosofie en groei, terwyl prominente rolspelers hul menings oor die fees se impak lug. Talle vooraanstaande filmmakers wat hul eerste treë in die bedryf as deel van die kortfilmprojek gegee het, deel ook hul suksesstories eerlik en sonder fieterjasies.

Onder dié Silwerskermfeeskortfilmalumni tel die formidabele filmmaker Christiaan Olwagen wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Amy Jephta en Ephraim Gordon van Nommer 37- en Barakat-faam en die filmmakerpaartjie Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie en Toorbos vervaardig het.

Voorts bevat die Silwerskermfeesdokkie allerlei staaltjies oor die maak van die speelfilms wat oor die jare heen toekennings by die fees ingepalm het, asook argiefmateriaal. Vervaardigers, regisseurs, teksskrywers en redigeerders praat prontuit oor die pad wat hulle saam met die fees én kykNET gestap het en hoe dit hul loopbane ’n hupstoot gegee het.

Maar waarom was Marius Weyers in trane ná Dis ek, Anna se première? Wat het tydens Arnold Vosloo se eerste fees gebeur? Vind uit op 12 Februarie.

Agter die Silwerskerm – 10 Jaar is vervaardig deur Sentient Creative vir kykNET.

Volledige lys van onderhoude:

Jan Du Plessis

Dani Bester

Salmon de Jager

Karen Meiring

Ricky Human

Elle Oosthuizen

Wim Steyn

Nicola van Niekerk

Kaye Ann Williams

Suzaan Keyter

René van Rooyen

Corné van Rooyen

Beer Adriaanse

Jorrie van der Walt

Eva Du Preez

Christiaan Olwagen

Bennie Fourie

Travis Taute

Etienne Fourie

Tertius Kapp

Ephraim Gordon

Amy Jephta

Arnold Vosloo

Jaco Bouwer

Vir Sentient Creative

Vervaardiger en regisseur      Haddad Viljoen

Kinematograaf                        Charl Fraser SASC

Kamera assistent                    Kyron Currie

Klank                                       Warren Frense

Tony Honeybun

Ontwerp en animasie             Gordon Bakkes

Redigeerder                            Regardt Visser

Musiek en Finale Meng          Paul Vermaak

Beeldmenger                          Charl Fraser

Produksie                                Augusta Zietsman

Stilering                                   Angelique Eksteen

Navorsing                                Anneke Borman

Teks-struktuur                        Augusta Zietsman

Subtitels                                  Augusta Zietsman