kykNET hou unieke 10de Silwerskermfees in Maart 2022

Rolprentmakers, filmstudente, en fliekvlooie van oraloor moet beslis hul 2022-kalenders oophou vanaf 23 tot 26 Maart. Dís die nuwe datums vir kykNET se spesiale 10de Silwerskermfees wat dié keer ’n byderwetse, hibriede baadjie aantrek.

Dit beteken die fees sal vir die eerste keer in tandem uitrol by die Bay Hotel se Rotunda in Kampsbaai en virtueel op die Silwerskerm webwerf, waar besoekers onder meer toegang sal hê tot presies dieselfde vollengte rolprente, kort flieks en industrie-besprekings.

Terwyl ’n beperkte aantal gaste onder streng Covid-19-regulasies die fees by die Rotunda sal bywoon, kan enigiemand regoor die land met internet dus waarookal hul verkies die fees geniet voor hul eie skerms.

Daarbenewens sal van die vollengte films gedurende die fees by ’n aantal uitgesoekte rolprentteaters en addisionele venues in Kaapstad vertoon word.

Alhoewel daar ’n geringe registrasiefooi vir die aanlynfees sal wees, sal die opbrengs daarvan, asook die kaartjieverkope by die venues wat oop is vir die publiek, geskenk word aan die Tribuo-fonds. Dié fonds is verlede jaar weens die impak van die Covid-19-pandemie gestig om vermaaklikheidskunstenaars in finansiële nood by te staan.

Met 2022 se hibriede aanbod sal kykNET voortbou op die hoekstene van die Silwerskermfees: om talent  voor en agter die skerms in die plaaslike filmbedryf te ondersteun en ’n seminale vertoonvenster vir dié filmmakers se jongste projekte te skep.

Ten minste vyf nuwe vollengte rolprente en sewentien kortfilms, wat onlangs met die mentorskap van die fees voltooi is, sal hul wêreldbuiging by die 10de kykNET Silwerskermfees maak. Hoogaangeskrewe internasionale filmlui sal ook hul kennis, ervaring en vaardighede tydens die fees deel en daar wag ’n paar opwindende verrassings op almal wat hul vinger op die pols van die jongste storie-neigings wil hou.

Die volledige 10de kykNET Silwerskermfees program word vroeg volgende jaar bekend gemaak.

Intussen kan fliekliefhebbers gerus die Silwerskerm webwerf verken.  Die fees se aanlyntuiste is opgedateer met ’n argief wat inligting oor al die vorige Silwerskerm debuutfilms bevat.

Daaronder tel ’n aantal spogflieks wat later talle internasionale toekennings ingeryg het.

2019 se Silwerskermfees wenner vir Beste Speelfilm, Poppie Nongena, waarvan ’n vorige kortfilm-wenner Christiaan Olwagen die regie behartig het, is byvoorbeeld onlangs (Oktober 2021) bekroon as die Beste Buitelandse Film by die BRICS fees in Moskou, Rusland. Dit het daar gekompeteer teen puik rolprente uit Brasilië, Rusland, Indië en China.

Die kykNET Silwerskermfees het tradisioneel jaarliks in Augustus plaasgevind, maar in 2020 het dit die vorm van ’n drie dae lange webinaar aangeneem om plaaslike rolprentmakers die geleentheid te gee om skouers te skuur met internasionale fliekfoendies terwyl die Covid-19-pandemie die vervaardiging van nuwe werk vertraag het.  Daarom moes die 10de verjaarsdagfees, aanvanklik beplan vir Augustus 2021, ook uitgestel word.

Die 10de Silwerskermfees word aangebied in samewerking met die Stad Kaapstad.

Volg die Silwerskerm só op sosiale media: