kykNET se Silwerskermfees is terug in Augustus

Filmmakers en fliekliefhebbers kan nou al hul 2023-kalender oopmaak en die woord “Silwerskermfees” in hoofletters by 23 tot 26 Augustus neerpen. Dís die datums waarop kykNET se gesogte filmfees vanjaar by die Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad, plaasvind.

Die 11de kykNET Silwerskermfees sal oudergewoonte ’n vertoonvenster vir ’n aantal blinknuwe vollengte rolprente wees, terwyl vyftien kortfilms, wat onder die Silwerskermfeesvaandel vervaardig is, ook onder die fees se premières tel.

Daarbenewens sluit vanjaar se program ’n rits mini-dokumentêre in. Dié dokkies, wat elk tussen twintig en dertig minute lank is, vorm deel van ’n opwindende ontwikkelingsprojek wat kykNET en die Silwerskermfees verlede jaar geloods het.

Die volledige 11de Silwerskermfeesprogram vir 23 tot 26 Augustus 2023, asook inligting oor hoe die publiek deel van dié plaaslike spoggeleentheid kan wees, sal later vanjaar bekend gemaak word.

As gevolg van die impak wat die Covid-19-pandemie op die vervaardigingstydslyne van plaaslike films gehad het, is die mylpaal 10de Silwerskermverjaarsdagfees in Maart 2022 gehou.

“Die Silwerskermfees speel ’n uiters belangrike rol in die voortbestaan van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf,” sê Waldimar Pelser, M-Net Direkteur: Premium kanale.  “Augustus is tradisioneel Silwerskermfeesmaand en ons sien uit daarna om vir ’n elfde keer die fees aan te bied. Dis ’n lanseerplatform vir puik rolprente asook die loopbane van belowende visuele storievertellers.”

Die internasionale prestasies van vorige Silwerskermfees vollengte speelfilms én kortflieks is lank en indrukwekkend. Talle gerekende filmmakers en televisievervaardigers het boonop hul eerste treë in die bedryf by die fees gegee.

’n Spesiale TV-dokumentêr wat op Sondag 12 Februarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, belig hoe kykNET en die fees sedert 2012 ’n weg vorentoe vir ’n nuwe geslag filmmakers gebaan het.

Feesstigters Karen Meiring en Jan du Plessis vertel in Agter die Silwerskerm hoe die fees tot stand gekom het toe die Suid-Afrikaanse filmbedryf in ’n doodloopstraat was. Van die vervaardigers, regisseurs, skrywers, agter-die-skerms rolspelers en akteurs wat hul industrie-buiging te danke het aan die Silwerskermfeeskortfimprojek deel ook staaltjies oor die pad wat hulle saam met die fees gestap het.

Daaronder tel Christiaan Olwagen wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaartjie Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie en Toorbos op hul kerfstok het.

Voorts raak Arnold Vosloo, die fees se beskermheer, nostalgies oor sy eerste Silwerskermfeesbesoek.

Agter die Silwerskerm is gemaak deur Sentient Creative vir kykNET.