
kykNET Silwerskermfees bly spilpunt vir Afrikaanse film- en TV-bedryf
Die 14de kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, plaasvind, spog met ’n uiteenlopende aanbod wat die diepte en diversiteit van Afrikaanse rolprentkuns weerspieël.
Volgens Waldimar Pelser, direkteur: Premium-kanale, is Kampsbaai dié plek om te wees tydens die 14de Silwerskermfees, “wat aan jong filmmakers behoort, met baie om te wys en te sê”.
Altesaam 22 rolprente word vertoon, waaronder 17 kortfilms (ingesluit vyf dokumentêre kortprente) en vyf vollengte-rolprente (ingesluit een dokumentêre film). Gevestigde regisseurs en draaiboekskrywers wys hul slag, terwyl opkomende filmmakers die geleentheid kry om die wêreld van visuele storievertelling te betree. Agttien films ding mee in die kompetisie, met die pryswenners wat op Saterdag 22 Augustus aangekondig word. (Twee vollengte- en twee kortprente is nie deel van die kompetisie nie.)
Volgens Pelser staan nuwe stemme vanjaar sentraal, met dokkies en kortfilms wat wydlopende temas ondersoek in verskillende variante van Afrikaans. Die geskiedenis wat in sommige verhale ingeweef word, vorm deel van die grein van Suid-Afrikaanse stories en sal tot ’n nuwe geslag kykers spreek.
Onder die kortfilms is daar liefdesverhale – van die verkwiklike en komiese (Twee persent) tot die steeds verbode en onaanvaarbare gay-liefde (As ek kon kies). Die dood staan voorop in Wag ’n bietjie met ’n seun wat ’n vreemdeling betaal om by sy ma te sit in haar sterwensure, terwyl die nasate in ’n Poppy op die heuwel letterlik in die middel van die nag self ’n graf vir ’n geliefde grawe sodat sy langs haar ma ter ruste gelê kan word. Geweld as tema word uit verskillende hoeke benader: ’n Paartjie wat laat in die nag in die strate van Kaapstad beroof word (Trilstraat) en ’n verwikkelde blik op geslagsgebaseerde geweld (Verwerking). Die soeke na aanvaarding en om jou identiteit uit te leef of drome na te jaag, word belig in Genoeg, Short Back & Sides en Yaadt Queen. En Change gooi ’n muntstuk in die lug en sê, maak nie saak waar hy val nie, kop of stert, tye verander en die dae van kleingeld is getel… iets wat so deel van ons gemeenskappe en lewe was.
Die makers van kort dokkies vra interessante vrae. Hoe voel dit om ’n rooikop te wees (Rooi van aard) of ’n ware armdruk-kampioen (Druk dit!), of ’n vergaarder wat ’n Tretchikoff-obsessie ontwikkel ná ’n internetkopie (Pappa Kitsch)? Hoe vlak lê die letsels nog van gedwonge verskuiwings onder die Groepsgebiedewet (Die grond onthou)? En wat verg dit om top-sportmense (van rugbyspelers tot swemmers) se koppe gesond te hou (Die gees agter die spiere)?
Pelser sê kykNET is trots op hierdie aanbod, “op filmmakers wat wondere verrig. In ’n tyd van toenemende druk en verandering bly die fees ’n vaste anker: ’n ruimte waar rolprente gekyk word, nuwe stemme ontdek word, en gesprekke gevoer word oor die toekoms, volhoubaarheid en die groei van ons bedryf.”
Nico Scheepers is terug met Landmyn, Jason Jacobs en Devon Delmar met Marita van der Vyver se jeugroman Al wat ek weet, en Zandré Coetzer met Silas en die Ysbeer op Tafelberg. Hul rolprente wat in 2025 by die Silwerskermfees te sien was, was onderskeidelik Hen, Carissa en My f*k, Marelize!.
Bekroonde prente wat reeds by verskeie internasionale feeste vertoon is en ook deel vorm van die program, sluit in Jacobs en Delmar se Variasies op ’n tema – wenner van die gesogte Tiger-prys (die topprys) by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees – asook Dian Weys se kortprent Aasvoëls en regisseur en medeskrywer Aadil Dhalech se Bosryer. Die program sluit ook die vollengte-dokumentêr From Dust We Spin van Julia Jansch in – onlangs vertoon by DIFF – wat ’n intieme blik bied op spinning as subkultuur én gemeenskapskrag.
Die publiek kan van Maandag 22 Junie af kaartjies bespreek by Quicket, ook vir die glansryke bloutapyt-geleentheid in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum op Saterdag 22 Augustus.
Pelser sê die Silwerskermfees is ’n geleentheid vir gehore om Suid-Afrika se stories te geniet en kykNET nooi almal uit om die films te ondersteun – hetsy by die fees of wanneer hulle hul pad na die bioskoop en ander skerms vind. “Dis hoe ons die bedryf lewendig hou en laat groei. Hierdie films gee ’n blik op die baie maniere waarop Afrikaans geleef en ervaar word – vasgevang deur die lens van die filmmakers wat dit skep.”
Bestudeer ook die volledige program vir die gesprekke, werkswinkels en ’n meesterklas, aangebied deur die skrywer-regisseur Weys, op die webwerf www.silwerskermfees.co.za. Aansoeke om die meesterklas by te woon open Vrydag 19 Junie, met beperkte plekke beskikbaar vir beide die werkswinkels en die meesterklas.
Soos verlede jaar word enkele episodes van nuwe televisieprogramme ook op die fees vertoon. Dit is prestigeryke produksies wat in samewerking met internasionale vennote gemaak is.
Die kykNET Silwerskermfees word deur Stad Kaapstad, Vuma, die Dagbreek Trust, Village ’n Life en die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) geborg.