Langafstand: ’n Inspirerende dokumentêr oor ’n atleet met ’n groot droom

Hoe ontsnap mens uit moeilike lewensomstandighede? Vir Deon-Lee Hendricks is die antwoord, “Met jou hardloopskoene.” 

Dié gerekende langafstandatleet wat in Cloetesville duskant Stellenbosch woon, kon maklik in ’n spiraal van bende-aktiwiteite verstrengel geraak het. Tog staan hy vandag in sy gemeenskap as “die hoop van Cloetesville” bekend. 

Die inspirerende Silwerskermfees-dokumentêr Langafstand skyn die kollig op Deon-Lee. Terwyl hy sy lewensverhaal vertel, volg die kameras hom op ’n belangrike missie: sy voorbereiding vir die Potchefstroom-landloopproewe wat hom dalk die groen-en-goud kan besorg.  

Die dokumentêr het ongelooflik baie vir Deon-Lee beteken, wat elke dag hard oefen om groter hoogtes te bereik: “Soos my coach sê, wat jy in die donker doen, kom uit in die lig.” 

In Langafstand sien ons hoe Deon-Lee se afrigter, Jacques Jansen van Rensburg, en sy mentors, die veteraan-atlete Elana Meyer en Zola Budd, aan sy tegniek skaaf en hom ook as mens bystaan. 

Langafstand se vervaardigers en regisseurs is Frankie Opperman en Reginald Hufkie. 

Reginald, of Reggie Pearce soos hy in rapper-kringe bekendstaan, deel ’n liefde vir sport met Deon-Lee. Dryfkrag is nog iets wat hulle in gemeen het. 

Voor hy ’n bekende akteur geword het met rolle in televisiereekse soos Huis Lelieveld en Desert Rose, het Reginald net soos Deon-Lee ’n “lang pad na bo” gehad. 

Reginald kom uit Port Elizabeth se wêreld, waar hy as jong seuntjie in ’n plakkerskamp aan dobbelary en alkohol- en dwelmmisbruik blootgestel was. Om homself eendag ’n beter lewe te gee, het hy kleintyd by welsynswerkers aangeklop met die versoek om in ’n Afrikaanse kinderhuis geplaas te word. 

Op hoërskool het Reginald hom in sy musiek, skryfwerk en wedren-stap verdiep. Die stappery het uiteindelik tot nasionale kleure gelei en, net soos Deon-Lee, het Reginald met omgee-mense kennis gemaak wat hom gehelp het met ’n universiteitsbeurs. Dáár het die toneelgogga hom gebyt. 

Reginald wou nog altyd atletiekstories en stories wat ’n verskil maak, vertel.  Daarom het hy die toneelstuk oor sy lewe Die Atleet saam met Lizz Meiring ontwikkel. 

Sy motto maak uiteraard sin, “As jy verandering wil bewerkstellig, moet jy dit self skep.” Dis presies wat Deon-Lee ook doen. “Deon-Lee se loopbaan is nou iewers in die middel van die leer en ek glo hy gaan nog baie mense se lewens raak,” sê Reginald.   

Langafstand wys op Donderdag 24 Augustus om 11:30 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.