Leemtes en leegheid: ’n Sielvolle blik op “tot siens” sê

Ingrid Jonker se hartverskeurende gedig “Jy het vir my gesterf”, is die spil waarom die Silwerskermfeeskortfilm Leemtes en leegheid draai.

Dié roerende kortfilm vertel die verhaal van Magdaleen, ’n eensame weduwee wat vasgevang is in die branders van verlies. Magdaleen skep ’n denkbeeldige weergawe van haar oorlede man om die einde van ’n leeftyd se liefde te verwerk, maar dit weerhou haar ook daarvan om die buitewêreld te betree en weer die see, waarna sy al maande lank smag, te sien.

Lida Botha lewer ’n kragtoer as Magdaleen en haar eggenoot van meer as vyftig jaar, Johan Botha, vertolk die man waarvan sy sukkel om afskeid te neem. Nog ’n veteraanakteur wat in Leemtes en leegheid verskyn, is Ivan Abrahams. Hy speel die rol van Magdaleen se nuwe buurman wat haar liefde vir Ingrid Jonker se digkuns deel en op sy eie manier ’n spieëlbeeld word van haar hunkering om afsluiting te vind.

Leemtes en leegheid  is die handewerk van die talentvolle span van Sanktuary Films met Gabriella Blumberg en Sam Pelteret as vervaardigers, Jordy Sank as regisseur en skrywer, en die jong dramaturg Terence Makapan as medeskrywer.

Jordy het onlangs die toekenning vir Beste regisseur by beide die Jozi-filmfees en Afrika-menseregte-filmfees verower vir I Am Here. Gabriella was ook die vervaardiger van dié film, wat in 2021 by die Durban Internasionale Filmfees as die Gehoorgunsteling aangewys is en die gesogte toekenning vir Beste dokumentêre film opgeraap het.

Dié skeppers van Leemtes en leegheid vertel dat hul Silwerskermfeeskortfilm geïnspireer is deur Jonker se gedig en die diep droefheid wat hulle ná die afsterwe van ’n persoon baie na aan hul hart beleef het. Die titel verteenwoordig die rouproses waardeur ons almal moet gaan met die dood van ’n geliefde. Die hoofkarakter se naam, Magdaleen, is ook nie toevallig nie. Die laaste deel van haar naam omskryf presies hoe ’n mens in so ’n hartseer tyd voel.

Leemtes en leegheid wys op Donderdag 24 Maart om 10:30 by die Silwerskermfees.