



Liefde gedy in stilistiese komiese kortprent ‘Twee persent’
In die stilistiese en komiese kortprent Twee persent betree die kyker ’n soort parallelle wêreld van skoonheid en onskuld wat herinner aan ’n vroeëre tydperk – ’n liefdesverhaal wat onbeskaamd ontvlugting bied.
Michelle le Roux, skrywer, mede-regisseur en in die vroulike hoofrol van Charlotte, sê dit is ’n eenvoudige storie van twee mense wat ’n band met mekaar vorm, iets waarby almal kan aanklank vind. “Ons almal wil soms net escape, hence one of the reasons why we create.”
En so ontvou die verhaal dan van Charlotte en die melkman, Ernest (Albert Pretorius) in Twee persent, wat einde Augustus by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad debuteer.
Waar kom die idee vandaan? En is jy nie bietjie te jonk om te weet van melkaflewering nie?
Dit was ’n eenvoudige What if-oomblik terwyl ek die dag gesit en een van vele koppies tee gedrink het: “Help, I am in love with the milkman but I’m lactose intolerant…” Die idee dat ’n allergie in die pad van twee mense kan staan.
Weet die “jonges” nie van die melkman nie? Dalk is dit van te veel TCM (’n kanaal met klassieke rolprente) kyk as ’n kind.
Terloops, Heinrich Laubscher (mede-regisseur) se oupa het destyds ’n melkery in die Weskus besit.
Dit speel af in die verbeelde voorstad Suville met die mense met hul geordende bestaan. En Charlotte met die laktose-intoleransie woon in Pasteurstraat. En die kortfilm se titel… Wat is die uitdagings om ’n komiese prent te skryf.
Komedie is ’n baie moeilike genre want dis besonders subjektief. Ek sit langs die kantlyn en skryf/vertel wat ek dink snaaks en absurd is, want daar is altyd iets om oor te skryf uit die alledaagse – ’n individu, ’n huisgesin, ’n buurt wat alledaags en normaal lyk.
Ek dink Twee persent se tipe komedie is iets wat almal kan geniet – dit is ’n selfbewuste knipoog vir die kyker.
Die visuele aanslag is een van ouwêreldse sjarme en gedempte fleurigheid. Is dit hoe jy dit geskryf het?
Dit is inderdaad. Die buurt van Suville is ’n parallelle wêreld tot ons s’n, ’n wêreld met sy eie what ifs and how comes? Daar is byvoorbeeld geen tegnologie wat gesien kan word nie, behalwe ’n elektroniese melkwa.
Die wêreld voel bekend want dit is tog, daar is net-net iets anders, vreemd. Kykers kry die geleentheid om hulself in ’n nuwe wêreld in te leef. Dit laat jou dink aan iets wat bestaan het, maar nie heeltemal soos mens dit onthou nie.
Hoe was dit om saam met jou mede-regisseur te werk? Dit is julle debuut as regisseurs vir ’n narratiewe kortfilm. Het julle saamgewerk aan die visie van die prent?
Nie sonder uitdagings nie, maar dit help dat ons al oor die vyf jaar ’n paartjie is. Ons ken mekaar goed en vul mekaar aan, soos in die clichés – ons is crunchy peanut butter en stroop saam op ’n toebroodjie…
Ons het saam aan die visie gewerk, veral later in die skryfproses toe ek hom betrokke gekry het as mede-regisseur (ek moes maar sy arm draai, hy was bang ons baklei). Hy was ’n sounding board, wat my soms moes terugbring aarde toe.
Ons het al ook al voorheen baie op stel saamgewerk – van musiekvideo’s tot korporatiewe onderhoude.
Terloops, bestaan daai voorstad wat mens aan die begin sien werklik?
Dit bestaan! Ons het gesoek vir die perfekte buurt, van een plek na ’n ander, maar niks het regtig vir ons die gevoel van Suville gegee nie. ’n Tannie wat ek ken het Oude Westhof-aftreeoord in Bellville voorgestel. Van die oomblik wat ons deur die hekke gery het, het ons besef dit is perfek. Ons kon toe alles op location verfilm, en is so dankbaar vir die mense van die aftreeoord – vriendelik, gretig om te help en lekker nuuskierig.
Heinrich, vertel meer van die klanklandskap, want klank en musiek speel ’n belangrike rol. En ook van die gebruik van oorhoofse skote.
Musiek en film gaan hand aan hand. Michelle het van die begin af geweet presies hoe die musiek vir die film moet klink gebaseer op haar visie. Sy het deur ’n eindelose katalogus van musiek gegaan. Die uitdaging vir my was om seker te maak die musiek se emosionele punte val op die regte plek van wat ons op die skerm sien. Omdat 95% van die film nie dialoog het nie (daar is wel ’n verteller), moes die musiek die storie help vertel en in sommige gevalle het dit ook die redigering van elke toneel bepaal.
Wat die oorhoofse skote betref, was dit iets wat ons ook van die begin af geweet het ons in die film wou hê. Ons het dit met ons kinematograaf, Michael Ellis, bespreek en vir ons was dit ononderhandelbaar. Ons het gevoel dat die oorhoofse skote die storie van die betrokke tonele die beste visueel sou vertel. Michael en die grips het die dinge laat gebeur, en ons is baie gelukkig met die eindresultaat.
Michelle, het jy ander draaiboeke in gedagte om mense se lewens op te kikker?
Baie. Hoop ek. My kop en notaboekies is vol stories en idees en ek is reeds besig met twee ander draaiboeke (in ontwikkeling). Kom ons sê ek bou dalk my eie universe en dalk speel al hierdie stories af in dieselde een. Suville kan dus dalk net deel van ’n groter wêreld in hierdie parallelle wêreld wees, in ’n liminal space, of mens kan dit self ’n soort twilight zone noem. Die stories wat ek tans aan werk, is ook komies in aanslag, maar donkerder en meer satiries oor die lewe in ’n voorstad. (Ek het grootgeword in ’n tipiese voorstad en daar was altyd ’n gevoel dat iets onder die oppervlak borrel.) Ek hou van en gaan soek na die weirdness, strangeness, absurdity of the everyday.