Meesterklas-aansoeke nou oop
Hou jou snaaks: Toneelspeel in komedie
Hierdie eksklusiewe twee uur lange meesterklas met die bekroonde Suid-Afrikaanse komedie-sterre Bennie Fourie en Desiré Gardner ondersoek die kernvaardighede wat komiese toneelspel verg. Deelnemers sal in diepte kyk na tydsberekening en ritme, die kuns van toewyding en eerlikheid in absurde situasies en die bemeestering van tegnieke vir fisieke komedie. Daar word ook aandag gegee aan die ontwikkeling van improvisasievaardighede, verbetering van luister- en reaksievermoëns, en die eise wat verskillende komedie-genres stel – van die klug tot satire. Fourie, die skepper en ster van Hotel en Taktiek, reekse wat ’n rits Saftas gewen het, deel sy ryk ervaring met komiese skryfwerk, toneelspel en regie. Gardner, bekend vir 7de Laan, Magda Louw en talle ander produksies, gee insigte in sowel die kuns van komiese toneelspel as dit wat die rol van hoofskrywer behels. Die sessie sal ook raak aan die dissiplines van skryf en regie as noodsaaklike gereedskap vir akteurs wat die volledige proses en kuns van komedie wil verstaan.
Met Bennie Fourie en Desiré Gardner
Doen hier aansoek
Dokumentêre: Om feite soos fiksie te skryf
Hierdie intensiewe twee uur lange meesterklas met die dokumentêrkenners Jasyn Howes en Andy Petersen gaan oor die kuns om werklike gebeure in meesleurende vertellings te omskep. Aan die hand van hulle bekroonde werk, onder meer die dokumentêre reeks Boetie Boer, leer deelnemers hoe om verhale uit saakdossiere en hoftranskripsies te haal, karakterboë op openbare rekords te bou en hoe om komplekse onderwerpe te vermenslik sonder om feite te fiksionaliseer. Daar word ook gekyk na hibriede tonele wat heruitbeeldings met argiefmateriaal kombineer, tegnieke om ’n verhaalstruktuur met drie bedrywe uit nie-lineêre materiaal te skep en hoe om ’n balans tussen emosionele waarheid en feitelike akkuraatheid te handhaaf. Deelnemers kry die geleentheid om in praktiese oefeninge die wetlike en etiese uitdagings van werk met werklike slagoffers en ander bydraers te leer hanteer.
Met Jasyn Howes en Andy Petersen
Doen hier aansoek
Kort en kragtig: Die skep van ‘n kortfilm
Hierdie eksklusiewe twee uur lange meesterklas met die bekroonde filmmakers Gabriella Blumberg en Jordy Sank ondersoek die kuns van kortfilmvervaardiging – van konsep tot die eindproduk. Deelnemers leer hoe om ’n storie ekonomies te vertel, visuele narratiewe tegnieke in te span en hoe om ’n onmiddellike impak binne streng beperkings te maak. Blumberg, die vervaardiger van die Safta-wenner-dokumentêr I Am Here en regisseur van bekroonde kortfilms soos Volle bors, is veral kundig oor die skep van die stories wat stigmas bevraagteken. Sank, wie se kortfilm Leemtes en leegheid die Silwerskermtoekenning vir Beste kortfilm gewen het en die pad gebaan het vir sy lokettrefferspeelfilm Die Kwiksilwers, sal praat oor strategieë om via ’n kortfilm by ’n vollengterolprent uit te kom. Deelnemers sal hul kortfilmvaardighede opskerp deur te werk aan bewys-van-konsep-stukke wat die potensiaal het om tot opdragwerk en erkenning, plaaslik sowel as internasionaal, te lei.
Met Jordy Sank en Gabriella Blumberg
Doen hier aansoek