Mila Guy skitter en Skyn met haar regiedebuut by die Silwerskermfees

Die geliefde aktrise Mila Guy is ’n bekende gesig by die Silwerskermfees. Sy het gehore bekoor in die speelfilms Liewe Kersfeesvader, Wonderlus en Vuil wasgoed en was ook te sien in die kortfilms Vlugtig en Axis mundi. Vanjaar maak sy haar feesregiedebuut met die kortfilm Skyn.

Skyn vertel die verhaal van Martha, enkellopende kelnerin wat op haar 28ste verjaarsdag wakker skrik met ‘n onbekende man in haar bed en ‘n vreemde gevoel in haar maag. ’n Apteektoets bevestig haar vermoede – daar is ’n broodjie in die oond. Die nuus versprei soos ’n veldbrand, maar dan vind Martha uit dis ’n skynswangerskap. Wat nou? Die probleem is sy geniet al die aandag wat met die “swangerskap” gepaard gegaan het en dit gaan bitter ongemaklik wees om haar vriende oor dié “foutjie” in te lig.

Mila som Martha se penarie en die essensie van die kortfilm só op: “Daar word van kleins af baie verwagtinge op vroue geplaas oor swangerskap. ’n Babapop is ’n dogtertjie se speelding en in my eie kultuur is om te trou en ’n kind te hê soms die hoogtepunt van ’n vrou se bestaan. Sulke verwagtinge skep die illusie dat jy nie suksesvol is totdat jy kinders het nie. Al jou ander suksesse en ambisie is nie geldig nie en word selde raak gesien.”

Carla Smith, wat die rol van Martha vertolk, het ook Skyn se draaiboek geskryf en die vervaardiger is Käte Schalk, wat al betrokke was by ’n paar televisiereekse. Carla is ook by vanjaar se fees te sien in die speelfilm Stiekyt. Voorts spog Skyn met die kamerawerk van die uitmuntende kinematograaf Jorrie van der Walt, wat ’n ZEISS-toekenning by die SSFX Filmfees in Texas ontvang het vir die Silwerskermfeesspeelfilm Gaia.

Skyn is op Donderdag 24 Maart om 15:30 aan die beurt op die Silwerskermfeesprogram.