My beskermer:  die fees se eerste post-apokaliptiese kortfilm in Afrikaaps

Die nadraai van ’n apokalips is lank reeds ’n gewilde milieu vir aksie-belaaide Hollywood-wetenskapfiksiefilms. Die Silwerskermfeeskortfilm My beskermer speel af in so ’n verbeelde, distopiese toekoms in die Kaap, waar vreesaanjaende masjiene op die laaste menslike oorlewendes jag maak.

My beskermer is die fees se eerste post-apokaliptiese wetenskapsfiksiekortfilm. Dié grensverskuiwende kortfliek is boonop in Afrikaaps én die hoofkarakter wat met die moorddadige meganiese vegters moet klaarspeel, is ’n jong Kaapse meisie.

Die brawe Tink, wat reeds deur die masjiene gebrandmerk is met ’n eienaardige letsel, en haar ouer suster, Kari, weet hul enigste hoop om oorlewing is om hul “beskermerrobot” klaar te bou. Sonder laaste uitstaande parte is dit egter ’n onbegonne taak vir die moedelose Kari. Dan besluit Tink, sonder Kari se medewete, om saam met haar hond, Indy, na die nodige parte te gaan soek op ’n  skrootwerf – die uithangplek van ’n gevaarlike masjien.

Die sjarmante 11-jarige Jazmine Ryan, ’n nuwe vonds vir die bedryf, vertolk die rol van die aksieheldin Tink. Haar verantwoordelike suster, Kari, word gespeel deur Shamilla Miller (The Girl from St. Agnes, Blood and Water, Troy: Fall of a City).

Maar wat van die masjien/robot?

Aldus Diana Mills Smith, My beskermer se regisseur en skrywer, was dit groot pret, maar uitdagend om dié monster te skep. “Ons wou ’n vars antagonis hê wat pas by ons storie en nie ’n tree terugstaan vir die moordenaarrobotte van Hollywood-films nie,” verduidelik Diana.

Die vervaardigers se aanvanklike inspirasie was die geraamtefiguur Skoppensboer. In plaas daarvan om ’n reusagtige gespierde androïed te skep, het hulle daarom ’n steam-punk-agtige apokaliptiese mantel van geroeste en gebreekte metaal gemaak waarin die waaghalsmeester Hein de Vries kon klim.

Met dié kostuum en nommerpasgrimering en prostetika deur die Opulence Groep, lewer Hein ’n rou fisieke vertolking wat meer outentiek en lewensgetrou is as wat enige CGI-skepsel sou kon wees.

Visuele effekte speel ’n belangrike rol in My beskermer en elke individuele VFX-skoot is in die fynste besonderhede uitgewerk. Die talentvolle spanne van Black Ginger en Left Post Production is hiervoor ingespan.

Dit was wel vir die vervaardigers belangrik dat die spesiale effekte om die karakters en storie draai en nie andersom nie. Die letsel op Tink se gesig is ’n sprekende voorbeeld daarvan.

My beskermer sorg vir ongekende feesaksie op Vrydag 25 Maart om 15:00.