’n Doop om stilte: Jong akteurs skitter in aangrypende kortfilm oor ontgroening

Ontgroening. Inlywing. Oriëntering. Inburgering. Doop. Daar is verskeie benamings vir dié praktyk waarmee nuwelinge simbolies toegang tot ’n skool, koshuis of sportspan verkry. Ongelukkig is hierdie tradisies dikwels ook sinoniem met boeliegedrag en laat dit soms diep sielkundige letsels. 

Die Silwerskermfeeskortfilm ’n Doop om stilte vertel die aangrypende verhaal van ’n graad 8-leerling, Joshua, wie se lewensuitkyk tydens ’n aand van ontgroening by sy nuwe seunshoërskool geskud word. 

’n Doop om stilte se draaiboek is deur Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst geskryf, wat ook saam die regie behartig het. Chris Coetsee is die vervaardiger, en ’n briljante jong akteur, Tiaan Luyt, maak sy eerste filmbuiging met ’n sielvolle, meesleurende vertolking van Joshua.  

Emilie en Kanya vertel dat baie oomblikke in die film gegrond is op ’n reeks gesprekke en onderhoude wat hulle regoor Suid-Afrika met mans gevoer het. “Die idee vir die film het begin toe ons self besef het hoe broers, vriende en kennisse drasties verander of weggekwyn het ná hul höerskoolontgroenings.”

Om dit outentiek uit te beeld wou Kanya en Emilie spesifiek tieners gebruik wat nog op skool is en die leefwêreld van die storie ken. Terselfdertyd het hulle geweet dat hulle ’n paar sterk professionele akteurs nodig gaan hê om die ensemble te lei. 

“Daarom het ons verskeie benaderings tot die casting process gevolg,” verduidelik Kanya. 

Terwyl hulle ’n ekslusiewe reeks oudisies in Kaapstad en Johannesburg gehou het om jong akteurs te vind wat reeds ’n paar film- of televisierolle agter die blad het, het hulle ook die ATKV-tienertoneelplatform vir nuwelinge dopgehou. 

Tiaan, ’n graad 9-leerder, was ’n verrassende vonds wat toevallig oor hul pad gekom het. Sy ouer suster, Karla, is deel van die Hoërskool Jan van Riebeeck se tienertoneelgroep waarby Kanya al vir twee jaar betrokke is. 

“Toe Tiaan een aand sy suster kom haal, het ons onmiddellik geweet hy kan moontlik ons hoofkarakter vertolk. Daar was iets so broos en eerlik aan sy gesig. Min het ons geweet dat hy boonop ’n besonderse talent vir toneelspel het. Hy was so professioneel op stel en ’n mens kan amper nie glo dat dit sy eerste keer voor die kamera is nie,” vertel Emilie. 

Die res van die ensemble bestaan uit leerders van hoërskole in en om die Kaap, onder meer, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool DF Malan en Paul Roos Gimnasium. 

“Ons is so bly dat ons met jong mense aan dié film kon werk. Die energie, rou spel en absolute gees wat die akteurs gebring het, was besonders,” sê Kanya. “Om die jong akteurs te lei en veilig te laat voel op stel, het ons heelwat tyd spandeer op gesprekke rondom respek vir mekaar en mekaar se liggame en die tematiek van die film.”

’n Doop om stilte wys op Vrydag 25 Augustus om 09:00 by die Silwerskermfees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.