’n Gids vir Louzanne ​​ ’n besonderse dokumentêr oor ’n uitsonderlike paralimpiese atleet

In die Silwerskermfeesdokumentêr ’n Gids vir Louzanne klim ons in die oefenhardloopskoene van die Bloemfonteinse langafstandatleet Louzanne Coetzee. Voor Louzanne die pad kan vat, is daar egter altyd nog iemand wat óók afbuk om veters vas te ryg. 

Louzanne is ’n blinde paralimpiese atleet wat wedrenne met ’n unieke persoon aan haar sy moet aandurf – ’n gids wat haar hardloopritme, fiksheid en spoed kan verstaan en ewenaar. 

Verskeie hardloopmaats het al saam met Louzanne aan plaaslike en internasionale atletiekkompetisies deelgeneem. ’n Gids vir Louzanne vertel ook hul stories wat met die triomfe en teleurstellings in Louzanne se merkwaardige atletiekloopbaan vervleg is. 

Dié besonderse dokumentêr is die handewerk van die regisseur-kameraman en man-en-vrou-span, Charlene en Eddie Stanley. 

Charlene en Louzanne se paaie het die eerste keer in 2014 gekruis toe Luzanne ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat was. “Tydens dié ontmoeting was daar nog nie eens ’n sprankie van belangstelling in atletiek by Louzanne nie,” vertel Charlene. 

Twee jaar later was Louzanne ’n topatleet en wêreldrekordhouer! 

Charlene het toe ’n nuusstorie oor Louzanne en haar destydse gids, Khothatso Mokone, vir eNuus oor hul voorbereiding vir 2016 se Paralimpiese Somerspele in Rio de Janeiro saamgestel.

“Die feit dat iemand in so ’n kort tydjie van ’n absolute beginner tot die hoogste hoogtes van ’n baie kompeterende sport kon gaan, het vir my boekdele gespreek oor Louzanne se vasberadenheid en toegewydheid. Maar dis net wie sy is. ‘Onmoontlik’ is net nie deel van haar woordeskat nie,” sê Charlene.  

Die spesiale band tussen Louzanne en Khothatso en die manier waarop hulle so inspannningsloos in absolute tandem met soveel vertroue in mekaar gehardloop het, was ook vir Charlene fassinerend. 

Ongelukkig, tot groot skok van almal wat vir Louzanne en Khothatso duime vasgehou het, is hulle in die 1 500m-wedloop gediskwalifiseer. Khothatso het haar onwetend gelei op ’n manier wat nie volgens die Spele se reëls toelaatbaar is nie.  

Maar by die 2021 Paralimpiese Spele het Louzanne teruggebons – met ’n silwermedalje en nuwe Afrika-rekord in die 1 500m. Daarna het sy die T12-vrouemarathon boonop in ’n nuwe wêreldrekordtyd voltooi en ’n bronsmedalje huis toe gebring.

“Dit het my met nuwe oë laat kyk na die gids-en-blinde-atleet-verhouding. Die storie moes eenvoudig vertel word en ’n kykNET Silwerskermfeesdokumentêr was die ideale geleentheid daarvoor,” sê Charlene. 

In ’n Gids vir Louzanne praat Khothatso vir die eerste keer openhartig op kamera oor die hartverskeurende gebeure by die Rio Spele. Ons ontmoet ook die ander gidse, onder andere Claus Kempen, wat haar tydens marathons bystaan.

Benewens ’n kykie na Louzanne en haar gidse se baan- en oefensessies, leer ons voorts oor die dapper dóg deernisvolle Louzanne se persoonlike lewe. Sy is ’n universiteitskoshuismoeder. 

En voor die eindkrediete rol, wag daar ’n verrassing op Louzanne wat kykers se harte warm gaan laat klop. 

’n Gids vir Louzanne wys op Woensdag 23 Augustus om 12:30 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.