Pasop: Die kortfilm Werpsel smokkel met jou kop!

Die kortfilm Werpsel draai om ’n ma en seun, maar vanaf die oomblik wat Lena en Leonard op die skerm verskyn, weet mens sommer alles is nie pluis in hierdie huis nie. 

Ma Lena is ’n verwaarloosde bejaarde wat óf uitdrukkingloos voor haar uitstaar óf rigied en meganies op al Leonard se pogings tot interaksie reageer. En Leonard, wat so ietsie in sy veertigs is, probeer hard – dalk ’n bietjie té hard. Om die waarheid te sê: Leonard is besig – báie besig. Hy bad Lena, dans met haar, voer haar, sit haar in die bed en loer kort-kort in om te sien of alles in orde is. Ietsie wat egter pla, is Leonard se glimlag wanneer hy doenig is met al dié dinge. Hoe eg is dit?

Aanvanklik kom dit voor asof Lena aan demensie ly of dalk van ’n beroerte herstel, maar waarom is daar skielik titseltjies lewe by haar te bespeur sodra Leonard sy rug draai? Voer sy dalk iets in die mou? 

Dié psigologiese riller hou jou heeltyd aan die raai, en Gustav Gerdener en Isabella Mostert se meesterlike vertolkings van Leonard en Lena smokkel behoorlik met jou kop. Jy wil jammer voel vir hul karakters, maar tot en met die ontknoping van die storie, weet jy nie wie regtig jou simpatie verdien nie. 

Isabella het haar televisiedebuut as Liefie in die klassieke reeks Arende gemaak, waarvoor sy destyds vir ’n Artes benoem is. Sy was ook Marike in Binnelanders, terwyl kykNET-kykers Gustav sal onthou as P.G. Retief van die dramareeks Bloedbroers. In die televisiebedryf is hul ook bekend vir hul werk agter die skerms. Isabella is ’n stemafrigter en Gustav ’n assistent-regisseur. 

“Toe ek die draaiboek gelees het, het Gustav en Isabella dadelik by my opgekom,” vertel Werpsel se 

vervaardiger, Philip Nolte. “Ek was al saam met albei op stel en het gedink hulle sou ’n interessante dimensie aan die creepy ma-seun-verhouding kon gee.”  

Werpsel se draaiboek is deur Barnardo Bloem geskryf, wat ook die regie behartig het. Die idee vir dié vreemde storie het een aand laat by hom opgekom toe hy na ’n dokumentêre program gekyk het oor ’n psigiatriese hospitaal met ’n pasiënt wat die personeel in ’n ongewone lig beskou. 

“Ek is nogal gefassineer met hoe mense se koppe werk, en hoe kragtig ’n emosie of denkwyse kan wees,” verduidelik Barnardo. “Die dokkie het my laat wonder hoe dit in die normale lewe kon afspeel as iemand oortuig is van iets wat glad nie waar is nie.”

Barnardo, ’n man van vele talente, het eers laat in sy lewe die kans gekry om film te studeer. Omdat filmskool net te duur was ná matriek, het hy eers sy ander liefde, musiek, nagejaag.  Hy was die kitaarspeler van The Monroes, wat in 2010 en 2011 in Nashville, Tennessee, opgetree het, en as filmmusiekskrywer het hy al ’n Loerie gewen. 

“Nadat ek my eie besigheid begin het, kon ek uiteindelik myself deur filmskool sit op die ouderdom van 33. Ek was die oupa in my klas!” skerts Barnardo. 

Barnardo het van die musiek in Werpsel self geskryf, asook een van die liedjies in ’n ander kortfilm by vanjaar se fees, Dans dat die biesies bewe

Werpsel wys op Donderdag 24 Augustus om 09:00 by die Silwerskermfees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.