Pyn word plesier in die kortfilm Verstikking

Die Silwerskermfeeskortfilm Verstikking gee nuwe betekenis aan die woord “sado-masochisme”. Vergeet van swepe en kettings of ’n dominatrix geklee in swart leer – dié letterlik asembenemende kortfilm verbeeld die spel tussen mag en magteloosheid, en die pyn en plesier wat daarmee gepaard gaan, binne ’n kapitalistiese samelewing.

Die hoofkarakter, Samuel, is ’n welgestelde sakeman wat een aand ná werk deur ‘n gewelddadige aanvaller beroof word. Hy herken die man as ’n voormalige werknemer, genaamd Nathan, maar besluit om nie die polisie te bel nie. In sy wêreld kan Samuel met sy dik beursie enigiets en enigiemand koop en hy begin Nathan betaal om die geweld wat hy ervaar het, herhaaldelik vir sy eie plesier te herskep.

“Alhoewel die storie die intensiteit daarvan vergroot, is ryk sakemanne wat gedryf word deur ’n magsdrang om ondergeskiktes pyn aan te doen, nie vergesog nie,” sê die vervaardiger Justin Vallay. “Die film is gedeeltelik geïnspireer deur talle voorvalle van sielkundige mishandeling by groot en bekende internasionale maatskappye.”

Die Suidooster-akteur Irshaad Ally speel die rol van Samuel, en die komediant Ayden Croy (Comedy Mixtape) wys sy slag in ’n ernstige rol as Nathan.

As gevolg van beperkte begrotings word die SIlwerskermfeeskortfilms gewoonlik net oor ’n paar dae geskiet. Verstikking bevat talle uitdagende wurg- en mishandelingstonele. Justin vertel dat dié tonele fisies uitputtend was vir die akteurs, maar dat hulle tussendeur darem in ’n paar makliker tonele asem kon skep.

Verstikking se agter-die-skerms-span het mekaar tydens hul studies by AFDA in Kaapstad ontmoet en het al saam aan ’n paar produksies gewerk. Dit het die verfilming beslis vergemaklik.

Die regisseur en skrywer van Verstikking is Chadlee Skriker en die vervaardigers is Justin Vallay en Zulfa Arendse.