


R2-munt bied perspektief op klasverskille en veranderinge in SA in ‘Change.’
In die kortfilm Change. word die kyker op ’n wipwaentjierit uit die oogpunt van ’n tweerand-muntstuk geneem. Buiten dat dit ’n unieke blik op die lewens van stedelike Suid-Afrikaners bied, ondersoek dit ook die tema van die waarde van geld.
Elke karakter beeld ’n ander sosio-ekonomiese klas uit, met elkeen se perspektief op geld. Dit wat jy in jou sak dra of nie, verklap baie meer van jou as wat jy dink…
Vrae aan Frances Sholto-Douglas, skrywer-regisseur
Jy maak jou debuut as draaiboekskrywer en filmregisseur met Change. Van waar die sprong van toneelspel na skrywer en filmmaker?
Om uit te brei na skryfwerk en regie het vir my soos natuurlike vordering gevoel. Vroeër in my akteursloopbaan was dit belangrik om uitsluitlik op toneelspel te fokus. Ek wou nie my aandag tussen te veel kreatiewe aktiwiteite verdeel nie. Maar nou bevind ek my op ’n goeie plek om op betekenisvolle maniere my vaardighede uit te brei. Ek is baie gelukkig dat ek die geleentheid gekry het om dit te doen.
Hoekom ’n storie oor kontant en kleingeld wat aan die verdwyn is? Is jy nie juis van die generasie wat ’n kontantlose wêreld voorstaan nie?
Kontant is ’n groot deel van Suid-Afrika se ekonomie, veral vir verbruikers met ’n laer inkomste. Daar is dus ’n element van klassisme wanneer ’n besigheid die kontantlose roete kies. Baie koffiewinkels, klerewinkels en restaurante in Kaapstad aanvaar nie meer kontant nie. Met Change. wou ek die idee verken van ’n groter besigheid wat dié roete volg, en wys wie dit kan beïnvloed – en hoekom ‘n kontantlose koffiewinkel nie in isolasie van ’n spaza-winkel om die hoek funksioneer nie. Ek glo my persoonlike geskiedenis met munte kom in die draaiboek uit, want ek het grootgeword met die tandemuis en tiensent-Chappies. Daar is ’n magiese element daaraan dat een munt so ver kan reis en deur so ’n uiteenlopende verskeidenheid mense hanteer word. Die een met die munt weet nie waar dit was nie of wat dit gaan beteken vir die volgende persoon wat dit kry nie.
Die storie word vertel uit die oogpunt van ’n R2-muntstuk. Dit het ’n groot invloed op die kamerawerk. Wei asb. uit daaroor.
Ons doel was om vir die gehoor die munt se gesigspunt te wys, wat nou ruimtes en dinamiese beweging vereis het. Die gehoorlid moet voel hoe dit is om klein te wees en voortdurend aan die beweeg. Die gebruik van ’n makro-sondeerderlens en ’n 360-kamera was noodsaaklik om hierdie visie te realiseer. Die sondeerderlens het ons in staat gestel om maklik in en uit klein ruimtes te beweeg. Deur vol te hou met hierdie perspektief, word die kyker as die munt ’n voyeur sonder om te oordeel. Ons vorm ’n band met die karakters waarmee ons in aanraking kom, terwyl daar ook ’n afstand gehou word. Die 360-kamera het die rol-effek moontlik gemaak, ’n wêreld geskep wat vinnig beweeg. Om met die rolprentkameraman Werner Botha te werk, was ’n droom; benewens sy tegniese vaardigheid was hy oopkop en bereid om die ekstra myl te loop om uiters uitdagende skote aan te pak. Ons stelontwerper, Natalie Fraser, het ook ’n groot rol gespeel om skynbaar onmoontlike hoeke moontlik te maak deur allerlei goed te bou – van ’n pocket rig tot ’n afvoersloot.
Kaapstad is amper ’n karakter op sy eie. Is dit jou grootword-stad? Hoe span jy Kaapstad en sy mense in?
Ek is so bly dat dit so oorkom. Ja, ek het in Kaapstad grootgeword en ek het my hele lewe hier gewoon. Ek het ’n ingewikkelde verhouding met die stad, wat bekend is vir sy ruimtelike apartheid en die ongelykheid ten opsigte van mense se finansiële vermoëns, en met my rol in die stad. Op ’n manier is hierdie kortfilm deel van my kritiese beskouing van die stad en my reis om my plek daarin te vind.
Vertel meer oor die musiek.
Aanvanklik was my plan om die stad se geluide as ’n klanklandskap te gebruik. Ek het gedink dat ’n musiekkomposisie die aandag sal aflei van die emosielose, onpartydige perspektief van die munt. Gelukkig het die hoog aangeskrewe filmmusiekkomponis Edward George King later in die proses my verkeerd bewys. Sy musiek het ’n “stem” vir die munt gegee wat die film volkome verander het.
Het jy kleingeld in jou beursie?
Ek het tans kontant in my foonomhulsel en ’n paar munte op my bedkassie – en ja, een van hulle is ’n tweerand-munt.
Jy is glo reeds besig met jou volgende draaiboek. Waaroor gaan dit en wat is die planne daarmee?
Ek skryf al ’n paar jaar aan ’n draaiboek oor ’n grootword-storie, en ek het ’n paar kortfilms gereed om verfilm te word. Ek is gretig om in die nabye toekoms nog ’n kortfilm te maak, en uiteindelik wil ek my draaiboek klaar skryf en dit as ’n speelfilm regisseer.
Ek was ongelooflik bevoorreg om hierdie geleentheid te kry om Change. te maak. Dit was een van die mees lonende ervarings van my lewe.