Sien die beste van die Silwerskermfees by die Woordfees

Vir die eerste keer sedert die pandemie vind daar weer van 10 tot 16 Oktober ’n Toyota US Woordfees in die vlees in Stellenbosch plaas.

Deel van die 2022-feesspyskaart is die Neelsie Cinema Filmfees, wat in die nuut opgeknapte teater in die Neelsie-studentesentrum op die kampus van die Universiteit Stellenbosch aangebied word.

Die filmfees vertoon ’n keur van die beste van die 2022 kykNET Silwerskermfees, waaronder die twee rolprente wat die meeste Silwerskermtoekennings opgeraap het: Barakat en Gaia.

Barakat is die eerste Moslem-rolprent in Afrikaaps en dit was vanjaar Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars. Die regisseur, Amy Jephta, het intussen ’n Safta vir beste regie gewen en Barakat het Silwerskermtoekennings verower vir beste draaiboek, aktrise (Vinette Ebrahim), vroulike byspeler (June van Merch), oorspronklike musiek, kostuumontwerp (Ayesha Khatieb) en produksie-ontwerp (Sumaya Wicomb). Dit wys die twee keer by die Woordfees. Die eerste vertoning op 13 Oktober word gevolg deur ’n V&A: die skrywer, dramaturg en kunsjoernalis Rafiek Mammon gesels met Ephraim Gordon, die vervaardiger en mededraaiboekskrywer van Barakat.

Die spannende eko-riller Gaia, wat met Silwerskermtoekennings vir beste speelfilm, regisseur (Jaco Bouwer), redigering (Leon Visser), klankontwerp (Tim Pringle), grimering en haarstilering (Sulani Saayman) vereer is en die ZEISS-toekenning vir beste kinematografie by die internasionale SXSW-filmfees aan Jorrie van der Walt besorg het, wys ook twee keer. Ná die vertoning van Gaia op 10 Oktober sal Danie Marais met die draaiboekskrywer, Tertius Kapp, en die regisseur, Jaco Bouwer, gesels oor hoe hulle hierdie projek onder uitdagend grendeltydtoestande verwesenlik het.

Een van die ander hoogtepunte op die program is ’n spesiale voorskou van Kerkorrel – ’n nuwe kykNET-dokumentêr oor Johannes Kerkorrel wat 20 jaar ná sy dood nuwe lig op sy lewe en natalenskap werp. Niel van Deventer, die vervaardiger en regisseur van die dokumentêr sal ná afloop van die vertoning met Danie Marais gesels en ook vrae uit die gehoor beantwoord.

Alle kortfilms op die program word gratis vertoon. Die 18 kortfilms wat vroeër vanjaar by die Silwerskermfees vertoon is, wys elk twee keer. Dit sluit die roerende Leemtes en leegheid (met Lida en Johan Botha en Ivan Abrahams) in, die eerste kortfilm wat daarin kon slaag om die Gehoorgunstelingtoekenning by die Silwerskermfees asook die prys vir Beste kortfilm te wen.

Twee ander bekroonde films wat by die 2022 Silwerskermfees vertoon is, wys eweneens gratis: #WeAreDyingHere, wat untussen die Safta vir beste kortfilm gewen het, en Ulwandle, wat die Safta vir beste kort dokumentêr ingepalm het.

Meer inligting oor die Neelsie Cinema Filmfees (https://woordfees.co.za/program/jsf/jet-engine/tax/feeskategorie:330/) is hier beskikbaar.