Silwerskermfeessterre te sien in Katvis

Twee bekende Silwerskermgesigte, Erica Wessels en Stiaan Smith, vertolk die hoofrolle in die kortfilm Katvis.

Erica het in 2016 die Silwerskermtoekenning vir Beste aktrise in ‘n kortfilm verower vir haar uitmuntende spel in Vlees van my vlees en Stiaan Smith stap al ‘n lang pad saam met die fees as skrywer én akteur.

Stiaan het in 2015 sy buiging by die Silwerskermfees gemaak met die kortfilm Beurtkrag waarvan hy die draaiboek geskryf het en toe ook die hoofrol vertolk het. Dié verhoudingsdrama het die glanspaartjie Ivan Botha en Donnalee Roberts so bekoor dat hulle Beurtkrag vir vanjaar se fees in ‘n speelfilm omskep het.

Beurtkrag het Stiaan die draaiboek van die 2016 Silwerskermfeesspeelfilm Sy klink soos lente neergepen waarmee hy fliekgehore se harte gesteel het as die mechanic wat verlief raak op sy baas se opstêrs dogter.

Stiaan het ook hoofrolle in die Silwerskermfeesspeelfims Vuil wasgoed, Wonderlus en Toorbos vertolk.

In Katvis, wat op Woensdag 23 Maart om 15:15 by vanjaar se fees wys, is Erica en Stiaan ’n getroude paartjie wie se gelukkige huishouding net een ding kort – ’n pienkvoet. Wanneer die biologiese klok al hoe vinniger begin tik en die ooievaar net nie wil saamspeel nie, beraam hulle ‘n ongewone plan.

Katvis, geskryf deur Igna Botha, vra die vrae waarmee kinderlose egpare dikwels worstel, maar met ‘n kinkel in die kabel.