Skryf in vir die fees se eksklusiewe meesterklasse  

Die kykNET Silwerskermfees bied vanjaar weer allerlei heerlike sessies aan om waardevolle kennis en vaardighede rondom die TV- en filmbedryf op te skerp. Buiten die gesprekke en werkswinkels oor brandpunte in die bedryf, is daar dié keer ook drie eksklusiewe meesterklasse waartydens ervare Silwerskermstemme ’n handjievol deelnemers intensief en prakties gaan toerus om hul storieverteltegniek te slyp. 

Die meesterklasse word in drie uiteenlopende velde aangebied: spelleiding voor die kamera, die skep van treffende dokumentêre films, en die maak van films wat gemeenskappe bemagtig. Potensiële deelnemers doen aanlyn aansoek en die top-kandidate word uitgesoek en genooi om die klasse by te woon.

As jy graag een van die vyftien deelnemers wil wees wat gekies word om elk van dié sessies by te woon, het jy nou die geleentheid om daarvoor in te skryf. 

’n Bietjie meer inligting oor die meesterklasse: 

Meesterklas 1: Die kuns van dokumentêre films  (Woensdag 23 Augustus om 14:30)

Hierdie meesterklas is spesifiek gerig op filmmakers wat reeds ’n idee vir ’n dokumentêr in hul agterkop of in die pyplyn het. Wim Steyn en Elle Oosthuizen, wat die gewilde reekse Devilsdorp en Steinheist gemaak het, asook Richard Finn Gregory (Boere op die Aardsdrempel, Steinheist), gaan twee ure lank praktiese opleiding gee oor wat ’n suksevolle dokumentêre narratief behels en geleentheid skep vir deelnemers om hul idees te slyp. 

Meesterklas 2: Regie – om te speel (Donderdag 24 Augusts om 14:30)

In dié praktiese meesterklas wys Nico Scheepers van Donkerbos– en Nêrens, Noord-Kaap– faam saam met akteurs en ’n kameraman hoe hy te werk gaan om op stel onder druk die beste spel uit akteurs te tower. Die deelnemers sal self ook geleentheid gegun word om kreatief met ’n toneel om te gaan en met variasies te eksperimenteer.

Meesterklas 3 Stories: Bemagtiging van gemeenskappe

Hierdie meesterklas, aangebied deur Nadine Cloete (Teater na die menseAction Kommandant) en Muneera Sallies (Old Righteous BluesTwisted Christmas), fokus op narratiewe stories wat in gemeenskappe verfilm word en die gemeenskappe se outentieke verhale op ’n fiktiewe wyse vas te vang. Slim tegnieke om met minder duursame toerusting en meer vindingrykheid te werk te gaan, word ook prakties ondersoek en toegepas.