Speelfilm ‘Silas en die Ysbeer op Tafelberg’ sal oud en jonk se verbeelding aangryp

Vir jonk en oud is daar die heerlike bonus van ’n gesinsrolprent wat die krag van verbeelding vier op vanjaar se kykNET Silwerskermfees-program.

Buiten dat Silas en die Ysbeer op Tafelberg by die fees debuteer – wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied word – is twee kinderboeke gemik op verskillende ouderdomme ook reeds beskikbaar.

Dit vertel die roerende en betowerende verhaal van Silas (Neels Clasen jr.) wat ná die dood van sy ouma (Antoinette Kellermann) glo sy het net in Droomland verdwaal. Hy besluit om haar te gaan soek en pak die reis saam met ’n nuwe maatjie, Willemien (Luna Coetzer), aan. In hul soektog kom hulle allerlei interessante karakters in lewende lywe teë, soos ’n Hus (Beer Adriaanse), Van Hunks (Neil Sandilands) en Toemaar (Brendon Daniels).

Vrae vir Zandré Coetzer, regisseur en storie-idee

Afrikaanse vollengte-rolprente vir kinders is so skaars soos hoendertande. Hoe het dit gebeur dat Silas en die Ysbeer op Tafelberg ’n film geword het?

Dit het begin met ’n eenvoudige gesprek. Ons dogter (Luna) het eendag vir my vertel ’n maatjie het haar oupa verloor. Dit het my laat besef hoe min ons as volwassenes eintlik met kinders oor dood, verlies en hartseer praat.

Ek wou ’n storie maak wat nie probeer om daardie moeilike vrae maklik te beantwoord nie. Kinders het nie altyd antwoorde nodig nie; soms net ’n veilige plek om saam met iemand deur ’n gevoel te werk.

Annie Klopper is die draaiboekskrywer. Hoe het julle saamgewerk aan die storie?

Ek en Annie werk op ’n baie natuurlike manier saam. Sy het ’n ongelooflike aanvoeling vir taal, karakter en die emosionele waarheid van ’n toneel. Ek is weer baie gefassineer deur wêreldbou, mitologie en die groter temas wat onder ’n storie lê. Ons het mekaar se sterk punte mooi aangevul.

Verjaag deesdae se ouers nog kinders met lastige vrae dat dit “husse met lang ore is”? Hoe het julle Hus ontwikkel en visueel tot stand gekom?

Die Hus het op ’n baie mooi manier twee generasies bymekaargebring. Annie se seuntjie, Jax, het van kleins af ’n denkbeeldige maatjie gehad met die naam Brommel. Toe ons begin droom oor hoe die Hus sou lyk en wie hy sou wees, het dit na die regte naam geklink. Skielik het iets uit ons oumas se volkstories hande gevat met iets uit ons kinders se verbeelding.

Ons wou nie ’n monster skep nie, maar ’n karakter wat nuuskierig, vriendelik en effens morsig is. Iemand wat voel asof hy nog altyd deel van ons volkstories was.

Musiek, die klankbaan en die oorspronklike liedjies, speel ’n belangrike rol. Wei asb. uit hieroor.

Ek glo kinders hoor emosie lank voordat hulle dit kan verwoord. Daarom dra die musiek dikwels Silas se gevoelens.

Van my mooiste kinderherinneringe is op die langpad see toe. My ma en boetie het gewoonlik geslaap, terwyl ek en my pa na Laurika Rauch geluister het. Daar is iets aan daardie herinneringe wat vandag nog vir my heimwee gee. Daarom was dit vir my baie spesiaal om Ingrid Jonker se “Toemaar die donker man” opnuut te kon verbeel. Ek wou nie die bekende toonsetting probeer vervang nie. Ek wou iets skep wat vir nuwe ore splinternuut klink, maar vir ouer ore soos ‘n geliefde lappieskombers voel.

Ek wou ook graag musiek hê waarna ek en my kinders saam kan luister. My eie vormingsjare is sterk beïnvloed deur Johnny de Ridder en Hunter Kennedy se musiek. Ek kon my ore nie glo toe hulle instem om die oorspronklike liedjies vir Silas te skryf nie. Die oorspronklike klankbaan deur Janine Neethling is net so belangrik. Janine weet hoe om gehore se hartsnare te roer en hulle deur musiek mee te voer. En dan was daar die Akustika-kamerkoor onder leiding van Christo Burger. Hulle het iets tot die film toegevoeg wat ek moeilik in woorde kan beskryf. Dit voel asof hulle asem in die musiek geblaas het.

Die ysbeer is ’n reuse-marionet. Vertel meer van die ontstaan en wat dit verg om dit te manipuleer.

Ek het van die begin af geweet ek wil terugkeer na dit wat tasbaar is. Terwyl ek navorsing gedoen het, het ek baie gelees oor Steven Spielberg se E.T. Een van die dinge wat my die meeste gefassineer het, was die feit dat E.T. fisiek op die stel was.

Ek het wyd en syd begin soek na iemand wat so ’n ysbeer sou kon bou, en uiteindelik het ek by Nadine Minnaar uitgekom. Sy was net so opgewonde oor die uitdaging soos ek.

Maar ’n marionet is net so lewendig soos die mense wat hom laat asemhaal. Weereens was ek ongelooflik bevoorreg om saam met drie van Suid-Afrika se voorste poppespelers te werk: Sipho Ngxola, Samkelo Zihlangu en Thabo Mkenene.

Die ysbeer se stem is ook nie gerekenariseerd nie. Tim Pringle het meesterlik saam met Francois Funck gewerk om die ysbeer se stem te ontdek. Elke grom, elke asemteug en elke brul is deur Francois uitgevoer. Dit gee vir die ysbeer iets besonder menslik, al praat hy nooit ’n woord nie.

Die ysbeer is nie net ’n spesiale effek nie; hy is een van die akteurs in die film.

Wat is die uitdagings rondom ’n kinderprent en sal Nagvlug Films weer so iets aanpak?

My grootste les tydens Silas was om respek te hê vir ons jong gehoor. Om te aanvaar dat hulle slimmer is as wat ons dikwels dink. Hulle sien ongelooflik baie raak. Hulle voel wanneer iets eg is en wanneer iemand met hulle probeer praat eerder as vir hulle probeer preek.

Kinders leef reeds met verlies, verandering, onsekerheid en groot vrae. Hulle is net nog besig om taal daarvoor te ontwikkel. Ek dink stories kan hulle help om daardie taal te vind.

Sal Nagvlug dit weer aanpak? Sonder twyfel. Trouens, hierdie ervaring het my net nog meer oortuig dat ons baie meer stories vir jong gehore nodig het.

Enigiets anders wat jy met die kykers wil deel?

As Silas vir een gesin een eerlike gesprek kan oopmaak wat andersins nooit sou gebeur het nie, sal ek voel die film het sy werk gedoen.