Staan opsy, Superman! Ons het ons eie held – Nagvoël.

Hoeveel Suid-Afrikaanse superheldflieks kan jy opnoem? Hou maar op om jou harsings te knoop. Die vervaardigers van die heerlike Silwerskermfeeskortfliek Nagvoël het self met dié vraag gestoei en toe besluit dis hoogtyd om die gaping in die mark aan te spreek.

Nagvoël se alter ego is Shaun Cloete, ’n kleindorpse ou wat met blink oë na die doen en late van die Suid-Afrikaanse Superheldeliga kyk. Hy wil bitter graag hê dat Nagvoël amptelik deel word van die liga, maar dié

uitgelese groepie misdaadbestryders aanvaar nie net sommer enige hierjy met ’n mantel en ’n paar toertjies in hul geledere nie. Daarom is sy aksieplan om hul aandag te trek deur die bende by die berugte Tikbrug uit te roei.

Soos dit ’n ware superheld betaam, laat Nagvoël die skurke lelik les opsê en kort voor lank word die videogreep van sy heldedaad ’n virale treffer op die internet. Maar dís wanneer Shaun leer wat dit régtig verg om ’n held te wees.

Die rol van Nagvoël/Shaun word vertolk deur Dean John Smith wat sepiekykers se knieë lam maak as die hartebreker Wade Ferreira in Suidooster.

Dean se gunsteling filmsuperheld is – jy’t reg geraai – Nagvoël. Maar as ons Hollywoodsuperhelde insluit, verkies hy beslis Spiderman bo Superman. “Die rede hoekom ek Spiderman like is, want hy is so real,” sê Dean.  “Hy is baie relatable en hy lyk soos jou everyday guy, wat ook maar net ’n hero is en mense help.”  Klink nogal baie soos Nagvoël, nè?

Die kortfilm se twee vervaardigers is ook superhelde. Buiten dat hulle ’n storie geskep het waarby kinders aanklank kan vind, is Wian Klopper en Stefan Erasmus die superheldkarakters op die plakkate in Nagvoël/Shaun se kamer.

Maak eerstehands kennis met Nagvoël en die Suid-Afrikaanse Superheldeliga op Woensdag 25 Maart om 15:00.