Straatrotte: Drie soet-stout kinders en kleurvolle animasie is die trekkrag van dié oulike Afrikaapse kortfilmkomedie 

Ontmoet vir Ebi, Zac en Nat – drie hawelose kinders wat ’n blink plan bedink om die (fiktiewe) burgemeester van Kaapstad se beroemde papegaai ’n rukkie lank te leen om ’n paar rand in te samel. Meneer die burgemeester wóú hulle mos straatrotte noem. 

Die geld is wel vir ’n goeie doel. Ebi is bykans blind en het dringend ’n sterk bril nodig. 

Straatrotte se draaiboekskrywer en regisseur, Gasan Sallies, is ’n ervare animeerder en SFX-skepper, en regdeur die film word die kinders se avontuur – wat ook al hulle sê, doen en dink – deur allerlei bewegende, betekenisvolle skrabbels, sketse en spraakborrels aangevul. Dié mengsel van verfilmde aksie en animasie is besonder kreatief en skep ’n eiesoortige storievertelstyl. 

Om die rolle van Ebi, Zac en Nat te vul, het Gasan, met die hulp van die TERN-talentagentskap, oudisies in ’n motorhuis in Grassy Park gehou. 

“As regisseur is dit vir my belangrik om geleenthede in gemeenskappe te skep wat nie noodwendig aan die filmbedryf blootgestel is nie,” verduidelik Gasan. 

Ná Kashief Haqe en Justin Cloete se individuele oudisies het Gasan geweet hulle is perfek vir die rolle van Ebi en Zac. Eers later het hy uitgevind dat hulle neefs is. “Die chemistry tussen Kaashief en Justin is reeds daar. Al wat my regie moes doen, was om seker te maak dat dit na hul karakters oorspoel en sigbaar op die skerm is,” sê Gasan. 

Mariah-Ruth Thomas, wat die rol van Nat vertolk, is aldus Gasan ’n droom om mee te werk. “Sy is ’n gebore aktrise en reageer flink op spelleiding.”

Aangesien die trio spelers nog nooit voor die kamera was nie, het Gasan twee maande voor Straatrotte se verfilming met hulle begin repeteer. “Ek het probeer om hulle op ’n prettige manier soveel as moontlik oor die filmmaakproses te leer sodat hulle selfversekerd en gemaklik op stel is,” sê Gasan. “Tog het die senuwees geknaag op die groot dag, maar net totdat hulle die woord ‘aksie’ gehoor het.”

Die animasie- en visuele-effekte-span het uit ses lede bestaan – ’n tradisionele 2D-animeerder, twee animasie-ontwerpers, twee 3D-animeerders en Gasan self. 

Omdat die draaiboek met animasie in gedagte geskryf is, is die animasie-sekwense vooraf ontwerp en dele daarvan reeds voor die verfilming aanmekaar gesit. Danksy Gasan se agtergrond kon hy sy visie toe reeds deur middel van gesketste voorbeelde met die span deel. Wanneer ’n toneel geskiet is, het hy dan ook sy hoed as visuele-effekte-spesialis opgesit en aan die filmspan en spelers verduidelik hoe die animasie in die verfilmde tonele inpas en waar dit op die skerm geplaas gaan word. 

Filmfoendi’s behoort dit interessant te vind dat Gasan ’n groot aanhanger van Edgar Wright en Wes Anderson is. Daarom was sy mikpunt met Straatrotte om ’n kortffilm te maak wat  Wright se vinnige en abrupte redigeerstyl, en Anderson se kenmerkende helder kleurpalet kombineer. 

Gasan se suster, Muneera Sallies, is Straatrotte se vervaardiger. Sy is ook die regisseur van die Silwerskermspeelfilm Old Righteous Blues.

Straatrotte wys op Woensdag 23 Augustus om 10:30 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.