Drie gratis sonkragaangedrewe gemeenskapsvertonings van Silwerskermfees-flieks

Met vergunning van die Stad Kaapstad en die kykNET Silwerskermfees, fasiliteer Sunshine Cinema in Augustus drie gratis sonkragaangedrewe vertonings van feesfilms by gemeenskapslokale in en om Kaapstad.

Dié flieks sal in Hangberg, Ravensmead en die Bo-Kaap vertoon word en die geleenthede sal deur die akteurs bygewoon word. 

Een van die 2022 Silwerskermfees-premières, Down So Long, is gekies as ‘n spesiale bederf vir die mense van Hangberg, waar die sosiaal-realistiese komedie verfilm is.

Die geleentheid vind op Saterdag, 12 Augustus plaas by die Hangklip-ontspanningsentrum, en die vertoning begin om 19:00.

Down So Long vertel die storie van Joseph Mabena, wat saam met sy vrou en uitgebreide familie in ’n oorvol huis woon. Wanneer hy ‘n aansienlike uitbetaling ontvang nadat hy sy oog in ‘n werkongeluk verloor het, gee al sy vermeende geliefdes meer om oor die geld as oor sy welstand.

Behalwe vir twee professionele akteurs, SAFTA-wenner Tshamano Sebe en Khadija Heeger, kom al die akteurs van die Hangberg informele nedersetting. Die gemeenskap het ook baie van die film se agter-die-skerms-dienste verskaf, soos spyseniering, sekuriteit en mediese dienste.

Ure ná sy première by die 11de kykNET Silwerskermfees op Woensdag, 23 Augustus, vertoon die romantiese komedie Frankie en Felipé om 19:00 by die Ravensmead-burgersentrum.

Met wyle Bradley Olivier en Solomon Cupido in die hoofrolle, handel Frankie en Felipé oor twee broers wat tydens hul kinderjare geskei is. Chaos ontstaan ​​wanneer hulle in die dae voor Frankie se troue weer as volwassenes ontmoet. Die rolprent is geskryf deur Bradley en Solomon, en die rolverdeling sluit in Zane Meas, Kim Syster, Bianca Flanders, Danny Ross, Brendon Daniels en Terence Bridgett.

Nog ’n rolprent wat vanjaar by die fees première, Old Righteous Blues, word op Vrydag, 25 Augustus, om 20:00 by die Schotse Kloof-saal in die Bo-Kaap vertoon.

Old Righteous Blues werp die kollig op ’n Suid-Afrikaanse kultuurskat: die Wes-Kaap se Kerskore. Hierdie aangrypende Romeo en Juliet-drama is in Robertson verfilm met ‘n indrukwekkende rolverdeling en ekstras uit die omgewing. Dit vertel die verhaal van Hantjie, gespeel deur Ayden Croy, wat bitter graag trommajoor vir sy Kerskoor wil word. Ongelukkig keur die koor se stoere leiers dit af. En om sake verder te kompliseer is die liefde van sy lewe, gespeel deur die opkomende aktrise Megan Saayman, die dogter van die leier van ‘n gehate mededingende koor. Die talle veteraan-akteurs wat in Old Righteous Blues te sien is, sluit in Kevin Smith, Simon Bruinders en Ivan Abrahams.

Toegang vir hierdie Outreach-vertonings is gratis. RSVP asseblief na events@sunshinecinema.org om jou sitplek te bespreek. Neem ook kennis dat Down so long en Old Righteous Blues ouderdomsbeperkings het. Jy moet 16 jaar oud wees om Down So Long by te woon en 13 om Old Righteous Blues te kyk.