Teater na die mense: ’n Insiggewende dokumentêr oor ’n stuk fassinerede kultuurgeskiedenis

Die meeste van ons is bekend met Adam Small se toneelstukke – veral omdat dramas soos Kanna hy kô hys toe en Krismis van Map Jacobs dikwels voorgeskrewe skooltekste is. Tog weet baie min Suid-Afrikaners hoe Small saam met die gemeenskapsteatergroep Cape Flats Players gewerk het om dié dramas op die planke te kon bring. 

Die Silwerskermfeesdokumentêr Teater na die mense belig dié stuk merkwaardige plaaslike toneel- en kultuurgeskiedenis. 

Toe Kanna hy kô hys toe in die laat 1960’s gepubliseer is, het dit die wenkbroue laat lig. Sommige kritici het vrae gehad oor Small se styl en taalgebruik en die manier waarop hy sensitiewe sosiaal-maatskaplike kwessies oopgeskryf het. Dit is selfs as onopvoerbaar beskryf. 

Small was in dié jare ’n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar die toneelgroep op kampus, die Dramsoc Society, hom genader het om Kanna hy kô hys toe op te voer. Dit was die begin van ’n verhouding wat ná politieke onstuimighede op kampus in 1973 voortgesit is met die Kaapse gemeenskapstoneelgroep die Cape Flats Players. Dié toneelgeselskap wat Small op die been gebring het, bestaan vandag nog met opwindende jong akteurs soos Ayden Croy en Megan Saayman – die hoofrolspelers in die Silwerskermfeesspeelfilm Old Righteous Blues – wat hier hulle teatertande geslyp het.

In die dokumentêr Teater vir die mense gesels die stigterslid Peter Braaf met sy dogter, Genevieve Muller, oor die begindae van die geselskap toe hulle veral op die Kaapse platteland gespeel het in gemeenskappe waar daar geen teatergeriewe was nie.

Prof. Charlene Dias, die student wat destyds by Small gaan aanklop het, vul dié prentjie naas Braaf en ander betrokkenes en teaterkenners in.  Ayden Croy en Megan Saayman is ook in die dokkie te sien.

Teater na die mense is die handewerk van Nadine Cloete, wat bekendheid verwerf het met die SAFTA-benoemde dokumentêr Action Kommandant oor die lewe van die anti-apartheidsaktivis Ashley Kriel. 

Nadine vertel dat sy besonder geinteresseerd was in die storie van die Cape Flats Players toe sy genader is om die dokumentêr te maak. “Verset in die kombinasie met kuns is belangrik vir my – dis wie ek is en waarvoor ek staan.” Haar kortfilm by verlede jaar se Silwerskermfees, Net ons, was ook deurweef met minder bekende Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis. 

Sy bied gereeld filmwerkswinkels vir die NFVF en in haar eie hoedanigheid aan. “Daar is soveel opgewondheid by mense wat die stories van en uit hul eie gemeenskappe wil vertel,” sê Nadine.  “Hulle wil dikwels veral leer oor hoe hulle dié stories in filmdraaiboeke kan omskep.” 

Nadine bied by die fees ’n eksklusiewe meesterklas aan oor hoe gemeenskappe deur stories bemagtig kan word. (Aansoeke vir dié meesterklas het reeds gesluit.)

Teater na die mense wys op Donderdag 24 Augustus om 11:30 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.