Televisiemakers kan programkonsepte voorlê by die 11de kykNET Silwerskermfees 

Gryp dié geleentheid aan om jou televisieprogram by kykNET se 2023 Silwerskermfees in persoon te kom pitch.

Die kykNET Silwerskermfees (die “Fees”) is bekend as ’n opwindende filmfees waartydens ’n ryk verskeidenheid nuwe plaaslike speelfilms, kortfilms en dokumentêre in bioskope, teaters en/of buitenshuise skerms in Kaapstad en omliggende gebiede vertoon word.

Alhoewel die Fees se kollig op Afrikaanse produksies in enige genre val, is daar ook kategorieë vir films en dokumentêre in ander landstale. Sowel bedryfsveterane as nuwe en opkomende filmmakers kan hul kennis en vaardighede slyp deur brandpuntpaneelbesprekings, werkswinkels en meesterklasse by te woon. Die Fees bied ook uitstekende netwerkgeleenthede.

Vanjaar brei die kykNET Silwerskermfees uit deur televisie- en stroomplatforms te betrek. Dit beteken dat daar ook nou aandag geskenk word aan werklikheids- en vermaaklikheidsprogramme, drama- en komediereekse en adverteerder-geborgde programme.

Om aan te sluit by dié nuwe verwikkelinge bied die 11de kykNET Silwerskermfees ’n reeks Pitch Vir Ons-sessies aan. Storievertellers in enige van die bogenoemde videovermaakgenres kan ’n konsepvoorstel indien wat moontlik tot ’n inpersoonvoorlegging by die fees kan lei. Die inpersoon-pitch-sessies vir M-Net se opdraggewende vervaardigers en besluitmakers vind tydens die fees in Augustus 2023 plaas.

Hoe skryf ek in?

  • Registreer op die Silwerskermfeeswebblad: silwerskermfees.co.za.
  • Vul die inskrywingsvorm volledig in.
  • Laai jou voorleggingsdokument in PDF-formaat op – MAKSIMUM 2 BLADSYE.
  • Televisie- en stroomdiensprogramvoorstelle moet via die kykNET Silwerskermfeeswebwerf ingehandig word.

Sluitingsdatum:21 Junie 2023

Die keurproses strek oor drie fases. Tydens die eerste fase sal die M-Net Content Hub se opdraggewende vervaardigers, wat vir elk van die kategorieë verantwoordelik is, die voorstelle evalueer. Nadat die top-15-konsepte aangewys is, skuif die beoordeling na die inhouds- en kanaalhoofde wat die topvyfdeelnemers in elke kategorie sal aanwys. Daarna word dié topvyf uitgenooi om in persoon hul programme by die 11de Silwerskermfees, wat tussen 23 en 26 Augustus in Kampsbaai gehou word, te kom pitch by die Fees.

Die konsepte vir nuwe televisie- en stroomdiensprogramme moet in een van die volgende kategorieë wees:

  1. Dramareeks
  2. Dokumentêr
  3. Werklikheids- en vermaaklikheidsprogram
  4. Adverteerder-geborgde program
  5. *Let wel: Die dialoogvereiste van die nuwe programvoorstelle is 100% Afrikaans.

Die konsepvoorstelle moet die volgende elemente bevat:

  1. Sterk, gepaste titel
  2. “Logline”
  3. Voorgestelde genre
  4. Opsomming (maksimum 350 woorde)
  5. Voorgestelde aantal episodes
  6. Voorgestelde tydsduur van elke episode
  7. Voorgestelde begrotingselemente:
    a. Koste per minuut (ontwikkeling)
    b. Koste per minuut (produksie)
    c. Algehele begrotingstotaal
  8. Verwysings na soortgelyke programme
  9. Kreatiewe span

Let wel: Vir ’n adverteerder-geborgde program moet die inskrywing ’n bevestigingsbrief van ’n borg insluit.