Tertius Kapp en die saadjie wat Gaia geword het 

Die film is reeds in die buiteland verkoop en nou maak die eko-riller Gaia sy Suid-Afrikaanse debuut by vanjaar se Silwerskermfees.

Waar en hoe is die saadjie vir Gaia geplant?

Die heel eerste saadjie is oor die 20 jaar gelede geplant in die eerste draaiboek wat ek ooit geskryf het, Sapiens. Dit was min of meer iets soos Into the Wild – ’n jong man wat in die wildernis gaan woon. Barend in Gaia het baie in gemeen met hom. Maar op ’n praktiese vlak het ek, Jaco en Jorrie op die stel van Die spreeus besluit om ’n klein cabin in the woods-tipe horror te maak. Ons het verder gepraat oor die storie van Isak, oor eko-terrorisme en ek het nogal diep gaan lees oor bome en swamme en die ongelooflike kompleksiteit wat in die afgelope jare ontdek is.

Het jy die draaiboek geskryf met sekere spelers in gedagte vir die rolle?

Ek skryf altyd met spelers in gedagte, maar dis nie te sê dat mens daarby bly nie. Soms verander die karakter heeltemal as jy ’n kopskuif maak in terme van akteur.

Jy is ook een van die vervaardigers. Is dit ’n uitdaging om meer as een hoed te dra?

Dit ís! Jy word soms jou eie vyand – die draaiboekskrywer wil een ding hê; die vervaardiger iets anders.

Wat is die grootste voordeel van jou samewerking met die regisseur Jaco Bouwer?

Ek dink ek en Jaco vul mekaar besonder goed aan. Ons daag mekaar intellektueel uit en die mengsel van ooreenkoms en verskil kan kreatiwiteit meehelp. Jaco is ’n visuele meester, en ek is sterker op taal, maar ons verstaan subteks op baie enerse maniere.

Hoe het julle jul span agter die skerms bymekaar gesit?

Ons het reeds met al die kreatiewe medewerkers aan projekte soos Die spreeus saamgewerkDit was die soort produksie waar crew kon bewys wat in hulle steek – maande se night shoots in uitdagende omstandighede, en hoë produksiewaardes ten spyte van beperkings. Ons het geweet Gaia gaan weer so wees.

Waar is Gaia verfilm?

In die Tsitsikamma-woud: meestal by Forest Hall, maar ook in Sanparke naby Nature’s Valley en in die Brackenburn- privaat reservaat.

Julle het al sukses met Gaia in die buiteland behaal. Vertel asseblief meer. En is daar nog planne?

Die film het sy première by SXSW in Texas gehad, laas jaar. Daarna is dit deur ons verkoopsagentskap, XYZ, verkoop aan verspreiders wêreldwyd – aan groot maatskappye soos NEON se Decal in die VSA. Dis in die hele Europa verkoop: van die Verenigde Koninkryk tot Rusland, ook in heelwat lande in die Ooste (Korea, Indonesië, Viëtnam ensovoorts), Nieu-Seeland en Australië, die Midde-Ooste, en reeds vooraf aan M-Net in Afrika.

Wat beteken Silwerskermfees vir jou?

Die Silwerskermfees is ’n vertoonkas vir die beste in Suid-Afrikaanse film. Van my eie grootste werk het daar gedebuteer, soos Dis ek, Anna en Griekwastad. Dis ook ’n belangrike ruimte vir eksperimentering en ’n viering van storievertelkuns.