Thrift tot die dood: ’n tong-in-die-kies kortfilm op die rillersnykant

Wees versigtig wát jy wáár koop en by wíe. Pasop veral as jy plannetjies het om aan jou aankopies te torring. Upcycling is dalk somtyds nie so ’n goeie idee nie. 

Dís die duur les wat ’n eiewyse hipster in die kortfilm Thrift tot die dood leer wanneer sy ’n paar vintage kledingstukke by ’n tweedehandsewinkel opraap en met die skêr wil inklim. Die klere veg terug met alle mag, maar nie omdat hulle tot op die vesel toe wreed en moorddadig is nie. Noem dit eerder selfverdediging.  

Thrift tot die dood blaas nuwe lewe in ’n ou gruwel-subgenre: die mes- panga- en kettingsaagriller, of soos ons dit in Engels ken, die slasher film.  

Elemente van die eens supergewilde maar nou afgesaagde gruwelflieks uit die1980’s, soos Nightmare on Elm Street, Halloween en Friday, the 13th, word behoorlik op hul kop gekeer in dié prettige Silwerskermfeesproduksie.  

Thrift tot die dood doen weg met klassieke gruwelprente se stereotipe karakters. Die antagonis is byvoorbeeld ’n vrou en die beweegrede vir haar aksie is vars, byderwets en nogals ingewikkeld. Verwag ietsie tussen Evil Dead en Mean Girls, maar met ’n inspuiting gril én humor. 

Die kledingstukkarakters is terselfdertyd oortuigend menslik dóg anderwêrelds. Mens kan nie help om te wonder hoe daar agter die skerms te werk gegaan is om dit te bewerkstellig nie. 

Arné Boshoff,  Thrift tot die dood se draaiboekskrywer en regisseur, laat die aap uit die mou: “Jy kyk eintlik na ’n groot, fancy, outydse poppekas met moderne redigering-magic. Pleks van CGI het ons toue en drade aan die kledingstukke vasgemaak om hulle te kan manipuleer en dit toe later uitgeverf op die redigeertafel.”

Jurassic Park se velociraptors en die Pixar-lamp van Disney se Pixar-films was Arné se inspirasie toe hy die karakters uitgedink het. 

“Van daar af het die drie manipuleerders na elke kledingstuk gekyk en hulself afgevra: hoe sou hierdie spesifieke denimbroek of rok opgetree het as dit skielik waarnemingsvermoëns gekry het en emosies kon ervaar?” vertel Arné. “Hoe sou die items fisies beweeg en hoe sou dit hul persoonlikhede weergee?” 

Daar was ook ’n SFX-toesighouer op stel wat elke skoot moes goedkeur vir redigeerdoeleindes. Eers as hy die groen lig gegee het, is die volgende toneel aangepak. 

Duan Wanty is die vervaardiger van Thrift tot die dood en buiten die gebleikte denimbroek en groen rok, vertolk Liezel de Kock en Anré Bouguenon die hoofrolle.

Thrift tot die dood wys op Vrydag 25 Augustus om 09:00 by die Silwerskermfees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.