Twee legendes speel na vier dekades weer saam in Bittersoet.

Die eerste repetisiedag van die Silwerskermfeeskortfilm Bittersoet was ’n blye herontmoeting vir die twee veteraanakteurs Louis van Niekerk en Gerben Kamper.

“Dit was ’n oomblik wat ek altyd sal onthou en koester,” vertel Bittersoet se regisseur en skrywer Zandré Coetzer. Louis en Gerben het afsonderlik vir hul rolle voorberei en het dus eers by daardie eerste repetise uitgevind dat hulle teenoor mekaar gaan speel.

“Hulle was eers uit die veld geslaan en kon toe nie ophou klets nie,” borrel Zandré. “Toe hulle die sommetjies maak, het hul uitgewerk dat hulle meer as veertig jaar laas saam gewerk het aan ’n produksie en hul opgewondenheid was omtrent aansteeklik vir almal op stel.”

Louis van Niekerk en Gerben Kamper het in 1971 die verhoog gedeel in ’n speelvak van PG du Plessis se Siener in die suburbs by die Breytenbach-teater, met Louis in die rol van Giel, en Gerben as Albertus. Daarna het hul paaie weer gekruis in ’n paar produksies, maar voor Bittersoet was hulle dekades lank nooit saam in ’n film te sien nie.

In die 1980’s was Louis, alombekend vir sy baritonstem en genuanseerde spel in televisiereekse soos Mattewis en Meraai en Amalia, TRUK se artistieke direkteur. Gerben was tussen 1987 en 1998 die uitvoerende direkteur van SUKOVS in die Vrystaat.

Louis is in 1990 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met ’n erepenning vir toneelkuns en die Gerhard Beukes-prys, terwyl Gerben die Gerhard Beukes-prys in 2017 ontvang het.

In Bittersoet vertolk Louis van Niekerk die rol van ’n oupa met Alzheimer’s wat by ’n Kersete iets laat glip wat sy dogter (Antoinette Louw) op hol het. Gerben speel dié oupa se jare lange vriend.

Bittersoet wys op Vrydag 25 Maart om 10:30 by die Silwerskermfees.