V&A met Kyle Shepherd

 

Kyle Shepherd het vanjaar sy tweede Silwerskermtoekenning gewen vir sy oorspronklike klankbaan vir Barakat – Suid-Afrika se inskrywing vir die 2022 Oscars wat altesaam ses Silwerskermtoekennings ingepalm het, waaronder die pryse vir Beste draaiboek (Amy Jephta), Beste aktrise (Vinette Ebrahim) en Beste ondersteunende aktrise (June van Merch). Shepherd se Barakat-klankbaan is ook vir ’n Safta benoem wat nogmaals bevestig dat hierdie internasionaal gerekende pianis een van die beste en produktiefste film- en teatermusiekkomponiste van sy generasie is.

Ons het Kyle ’n paar vrae oor die inspirasie agter sy meesleurende klankbaanmusiek gevra.

  1. Wat is jou gunstelingfilm- of TV-klankbaan en hoekom?

Baie moeilik om te kies, maar die paar klankbane waarna ek die meeste luister, is Johan Johannson s’n vir Prisoners, Hans Zimmer s’n vir The Dark Knight en Ludwig Gorransen s’n vir Tenet. Ál drie hierdie rolprente is gemaak deur óf Dennis Villeneuve óf Christopher Nolan. Ek dink dit sê baie oor die diepte en omvang van hierdie twee regisseurs se visie vir hulle films.

  1. Wie is gou gunsteling-filmmusiekkomponis en hoekom?

Weereens baie moeilik om te kies, maar dis heel moontlik Hans Zimmer. Ek stel baie belang in die maniere waarop hy klankbane skep en vervaardig – hoe kry hy dit tegnies reg om dit so goed te laak klink. Met ander woorde, watter ateljees gebruik hy? Watter musikante? Watter span klankingenieurs is betrokke, ensovoorts?

Ek dink hy het die klank van ’n generasie van filmkomponiste gevorm en hy was ’n pionier in terme van die gebruik van rekenaars in die skeppingsproses. Baie van vandag se topklankbaankomponiste het begin as Hans Zimmer se assistente – mense soos Ramin Djawadi (Game of Thrones), Junkie XL (Mad Max Fury Road) en Lorne Balfe (Top Gun Maverick, Mission Impossible). Zimmer is regtig ’n revolusionêre komponis.

  1. Wat was jou grootste bron van inspirasie vir die Barakat-klankbaan?

My grootste inspirasie was, soos met al my klankbane, die storie. Dit gaan oor die regisseur se visie met die storie wat sy of hy wil vertel en natuurlik ook die spel van die akteurs. Daar’s ’n gesegde: “Dit maak nie saak of jy fantasties kan speel of groot musiek kan skryf nie. Die vraag is: Kan jy met jou musiek ’n storie vertel?”

  1. Op watter deel van die Barakat-klankbaan is jy die trotsste?

Op hoe dit alles bymekaar gekom en ’n eenheid gevorm het as ’n storie met ’n narratiewe boog. Die tempo van die klankbaan – van die begin tot die einde van die film – is van deurslaggewende belang en dis ook een van die moeilikste dele van die proses. Ek vind altyd weer dinge wat ek dalk sou kon verbeter, maar ek is met Barakat trots op die vorm wat die klankbaan aangeneem het en hoe dit die storie vertel.

  1. Wat is die beste raad oor die komposisie van filmmusiek wat jy aan ’n beginner kan gee?

Wees gereed om baie hard te werk – onrealistiese, ongewone ure. Maak ’n studie van musiek, formeel of op jou eie, maar gee aandag aan die storie en die fyner nuanses van musikale uitvoering. ’n Klankbaan werk goed wanneer dit daardie emosionele elemente belig wat subtiel tussen die lyne van die storie lê.

***

Die 16de jaarlikse Safta’s word op 3 September 2022 regstreeks op SABC 3 en Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) uitgesaai.