Volle bors: Vervaardiger Gabriella Blumberg skuif na die regisseurstoel met ’n kortfilm wat ons tydsgees vasvang

In 2022 het die kortfilm Leemtes en leegheid talle Silwerskermfeesbeeldjies, insluitende die toekenning vir die beste kortfilm opgeraap. Leemtes en leegheid het boonop die fees se geskiedenis herskryf. Dit was die eerste kortfilm ooit wat as die gehoorgunsteling aangewys is. 

Gabriella Blumberg en Sam Pelteret het dié hartroerende kortfilm vervaardig. Nou, by die 11de kykNET Silwerskermfees, dra Gabriella ’n ander hoed. Dié keer is sy in die regisseurstoel van nóg ‘n aangrypende kortfilm, Volle bors, waarvoor sy ook vir die eerste keer haar hand aan ’n draaiboek gewaag het. 

Volle bors draai om ‘n digter in haar 20’s, Eva, wat positief toets vir die BRCA 1- genetiese mutasie. Dit beteken Eva se risiko vir borskanker is uiters hoog. ’n Voorkomende dubbele mastektomie word aanbeveel, maar Eva worstel met die idee. Dan, net voor ’n poësiefees met Eva in die kollig, besef sy dat sy dalk vinniger die besluit oor haar borste moes maak. 

Dié storie sny diep vir Gabriella: Dis op haar eie lewensverhaal geskoei. Nes Eva, is borskanker deel van Gabriella se familiegeskiedenis. Haar ouma is op 26-jarige ouderdom met borskanker gediagnoseer en haar ma het dit oorgeërf. Gabriella het wel besluit om die operasie te ondergaan. 

Ten tye van haar dubbele mastektomie het sy egter vinnig besef dat dit in baie kringe ’n taboe-onderwerp is. Daarom het sy besluit om storievertel as ’n instrument te gebruik om die stigma hok te slaan en gesprekke daaroor aan te wakker. 

Volle bors betrek relevante temas in ons Zeitgeist, soos vroulikheid en wat ons borste simboliseer,” meen Gabriella. ’n Vrou se borste word met seksualiteit, borsvoeding en aanloklikheid geassosieer – aspekte wat direk bedreig word deur ’n dubbele mastektomie. Tog is daar verskeie maniere waarop jy jou vroulike identiteit kan uitleef, of jy nou borste het of nie.

“Dit is belangrik dat ons nie daarvan wegskram nie – veral omdat die BRCA1- genetiese mutasie in Suid-Afrika in Afrikaanse, isiXhosa en Ashkenazi-Joodse gemeenskappe gevind word.”  

’n Gedig wat Gabriella geskryf het toe sy die allerbelangrike besluit moes maak, het die saadjie vir Volle bors geplant. Terwyl sy dit neergepen het, het sy op poësie deur beide haar ma en ouma afgekom wat hul emosies tydens hul borskankerreis beskryf. 

Gabriella is egter Engelssprekend en vir Eva se gedig het sy by Jeani Heyns, wat ook met die draaiboek gehelp het, aangeklop om haar idiomatiese taalgebruik te vertaal. Daarna het die bekende digter Bibi Slippers verder aan die woorde geslyp.  

Die rol van Eva word sielvol deur Marguerite van Eeden (Vaselinetjie, Vergeet my nie) vertolk.

“Marguerite is ’n sensitiewe aktrise en beeld Eva as ’n bemagtigde vrou uit wat aktief besluite neem en nie verdrink in selfbejammering nie,” sê Gabriella.   

Sosiale media is nog iets wat ons Zeitgeist in Volle bors vasvang. Dit het soms ’n positiewe en soms ’n negatiewe uitwerking op Eva se gemoed. 

Jordy Sank, Gabriella se vennoot by Sanktuary Films, is die vervaardiger van Volle bors. Hy was die regisseur van Leemtes en leegheid. 

Volle Bors wys op Vrydag 25 Augustus by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.