Vrywater – ’n betowerende kortfilm oor see-aanbidders

Twee geliefde aktrises uit verskillende generasies, Rolanda Marais en Rika Sennett, vertolk die hoofrolle in die Silwerskermfeeskortfilm Vrywater.

In dié kortfilm maak ons kennis met ’n eksentrieke kolonie duinebewoners met vreemde rituele wat glo hul heil word bepaal deur ’n goddelike wese in die see. Hulle wag lank reeds op die vervulling van ’n profesie wat berus op die besluit van ’n uitverkore vrou. Sy het egter ’n rebelse streep en alles hang daarvan af of sy haar eie kop gaan volg of hul belange op die hart sal dra.

Die regisseur en draaiboekskrywer van Vrywater is die aktrise, sanger en musikant Liesel Harris-Krüger wat ook die regie behartig het van ’n vorige Silwerskermfeeskortfilm Nag van die ondier.

Liesel beantwoord ’n paar vrae oor Vrywater:

  • Wat was jou inspirasie vir dié buitengewone storie? 

So vier jaar terug, terwyl ek vir die see gekyk het by Bettiesbaai, het ek ’n idee gekry vir ’n kortfilm: ’n vioolspeler wat vrouens in die see inlei. Ek dink ek was geïnteresseerd in die gedagte dat mense so maklik opgesweep kan raak – sektes wat mense lei om vreemde dinge te doen en te glo. Tog wou ek ’n wêreld skep waarin die “vreemde” en rituele actually die werklike waarheid kan wees: ’n onbekende tydsgees in ’n onbekende landskap/leefwêreld.

  • Die landskap in Vrywater is Waar is dit verfilm? 

Al die strand- en see tonele is verfilm by Silwerstroomstrand, op die Springfontein-landgoed, wat ’n gesogte filmbestemming is as gevolg van die unieke ongereptheid van die area. Al die ritueel- en huistonele is verfilm op ’n pragtige plaas in Red Hill.

  • Rolanda Marais vertolk die hoofrol en haar man, die gerekende kinematograaf Jozua Malherbe, is agter die kamera. Het jy al voorheen saam met Rolanda en Jozua gewerk?

Ek het nog nooit saam met Rolanda gewerk nie, maar dit was ’n fees. Sy is ’n grasieuse en baie talentvolle aktrise en sy en Jozua maak ’n gedugte span. Rolanda se energie en skoonheid laat die storie van Vrywater lewe kry op skerm. Wat ’n beautiful soul!

Jozua ken ek al vir ’n rukkie, alhoewel ek nog nooit die geleentheid gehad het om saam met hom te werk in hierdie hoedanigheid nie. Ek slaan sy werk hoog aan. Hy toor met bewegende beelde. Dit was ’n voorreg om deel te wees van sy skeppende proses en te sien hoe bedrewe hy met die kamera is – soos ’n meester met ’n verfkwas.

  • Wat was die grootste uitdagings om die storie te verfilm?

Behalwe dat daar groot tonele was wat alles in die buitelug moes gebeur, was die grootste uitdaging sekerlik die finale seetoneel. Ons het van die begin af geweet dat dit moeilik sou wees, maar op die dag was tyd teen ons (soos dit maar gaan in die lewe met groot gebeurtenisse) en moes ons alles supervinnig gedoen kry – alles one takes, en alles in ’n halfuur voor die son sak!

Jozua en sy kameraspan kom al die lof toe vir daardie finale seetoneel. Ek het soos ’n onhandige seedanser in die golwe geworstel om uit die kamera se lyn te bly terwyl ek probeer om bo die gedruis vir akteurs te sê wat om te doen terwyl die kamera aanhou rol.

Met hierdie toneel het ons wel ook die meeste pret gehad op ’n manier, want die teks was werklik net die raamwerk en enige iets anders wat in die oomblik gebeur het, was die magic.

  • Wat kan jy deel wat nog interessant is oor Vrywater?

Die klankbaan is heeltemal oorspronklik. Christo Burger het van die begin af saam met my gewerk aan klank-idees om die gevoel van hierdie film oor te dra. Ons het heerlik rondgespeel, bang geword vir weird soundscapes in die studio en mal geword van die mooi klanke en melodieë wat Christo opgedroom het. Die finale produk is ongelooflik hartverskeurend mooi.

Sonder hom en Fuzz van Odyssey Records sou hierdie film baie “platter” gewees het. Die klankbaan het lewe in die beelde geblaas!

Die sangstem wat jy hoor, is ek. Dis my cameos in die film.

Vrywater wys op Woensdag 23 Maart om 15:00 by die Silwerskermfees.